<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Die rots- en strandhengelaars van wie ek een is sal ook opofferinge moet doen as ons wil hê dat ons nageslag ook die voorreg sal hê om ‘n vissie te vang.

Die daaglikse viskwota van hengelaars en vistreilers moet drasties verminder word. ‘n Hengelaar moet nie meer as vyf visse per dag vang nie.

Daar moet meer kus-reservate gestig word waar vis ongehinderd kan aanteel. Daar moet wetenskaplik bepaal word watter dele van die kus geskik sal wees om as reservaat afgesonder te word.

Myns insiens behoort die hele Valsbaai gebied vir treilers gesluit te word soos wat die geval in die verlede was.

Volgens die verslag van dr. Griffiths (in tabel sewe) is daar agtien visspesies wat weens oorbenuttings totaal ineen gestort het. Dit is regtig ‘n swart dag in die visbedryf.

Almal se opofferinge moet doen as ons nie in die toekoms na museums wil gaan om vir ons kleinkinders te wys hoe ‘n galjoen gelyk het nie. Ek voel die breë hengelbevolking sal eenvoudig moet saamstaan as ons vis wil beskerm.

Die Regering sal viskwotas moet toeken aan diegene wat dit werklik nodig het, en nie ook nog aan dié mense se vriende nie. Dit sou goed wees as die name van die kwotahouers ook gepubliseer kan word.

Ebert van RooyenVishoek

Die Burger, 22 April 2000

Aktiwiteit 1:

Om inligting uit ‘n dokument te neem en die belangrikheid daarvan te bepaal , en die keuses te bespreek

[lu 1]

Mense se besorgdheid oor die uitwissing van die land se visbronne blyk duidelik uit die brief op bl. 21.

1. Skryf vyf van die skrywer se voorstelle neer wat jy as die belangrikste beskou.

2. Hou ‘n klasbespreking om jul keuses te motiveer.

Die Kus

  • Die vlak water seewaarts van die smal kusstrook huisves die mariene omgewing se produktiefste en mees uiteenlopende habitats: riviermondings, wortelbome, soutmoerasse, moddervlaktes, seegrasse en wierbeddings, en koraalriwwe. Hierdie habitats vervul ‘n lewensnoodsaaklike ekologiese rol, veral as teelgebied vir waardevolle visspesies. Gewoonlik verskaf hulle voedsel en skuilplek vir ‘n groot aantal spesies, insluitend vis, skulpvis soos kreef, krap, perlemoen, oesters en mossels. Gesamentlik lewer hierdie gebiede meer as twee-derdes van die wêreld se visopbrengs. Hierdie areas help ook om die gevolge van oorstromings te verminder en is dikwels besonder gewilde ontspanningsplekke.
  • Landwaarts van die kusstrook woon die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking. Ses uit elke tien mense woon binne 60 kilometer van die kus en sowat twee derdes van alle stede met ‘n bevolking van 2,5 miljoen of meer is naby getymondings geleë. Weens die hoë bevolkingsdruk gaan hierdie sone gebuk onder hewige direkte besoedeling, asook indirekte besoedeling via rivierstelsels. Meer as ‘n driekwart van alle mariene besoedeling het op sy oorsprong op land, terwyl skeepvaart, storting, en mynbou en olieproduksie ter see verantwoordelik is vir die res. Die kussone word onder meer besoedel deur onbeheerde nywerheidsafloop, vuil en behandelde rioolafval, plaagdoders en bemestingstowwe, en slikneerslae van erosie. Baaie waar die kanse op verspreiding en verdunning die minste is, word die swaarste getref. Die mens stort nou net so veel voedingstowwe in kuswaters as wat deur natuurlike bronne gelewer word. Na verwagting sal hierdie verskynsel binnekort vinniger toeneem, met verreikende ekologiese gevolge.

Streng nuwe regulasies kan vissers werkloos laat

Chris Liebenberg

YZERFONTEIN Gesoute Weskus-vissers meen die beoogde nuwe regulasies wat vir viskwotas beplan word, sal verreikende gevolge inhou vir vissers-gemeenskappe wat hier en elders langs die kus vir hul daaglikse bestaan van die see afhanklik is.

Vrese bestaan dat dorpe op die lange duur ekonomies negatief geraak sal word wanneer dit in werking tree.

Die nuwe regulasies bepaal onder meer dat mense wat tradisionele lynviskwotas kry, geen ander visvangregte mag kry nie. Dit raak tradisionele lynvis, handlynvangste en tuna.

Die aantal lisensies wat toegeken gaan word, sal die getal bemanningslede op ‘n boot beperk.

Vir plaaslike booteienaars en vissers wat vir hul behoud afhanklik is van lynvisvangste, veral snoek, is dié bepalings kommerwekkend.

Dit bepaal dat lisensies vir slegs 450 bote vir die gebied tussen Kaappunt en Lambertsbaai toegeken gaan word en dat die bemanning op sommige bote tot vier beperk gaan word.

Booteienaars sê die vermindering van bote en bemanningslede sal sowat 70% van die lynvissers werkloos laat.

Volgens mnr. Dan Nortjé, ‘n plaaslike inwoner en booteienaar, vang hy reeds 37 jaar hier vis met tien bemanningslede.

Van sy bemanningslede vang al langer as 17 jaar hier vis. Hulle het gesinne en is vir niks anders opgelei as handlyn-visvang nie.

Nortjé sê as hy ‘n lisensie sou kry, moet hy ses van sy bemanningslede afdank. Indien hy nié ‘n lisensie kry nie, moet hy ál tien afdank en is hy sélf ook werkloos met ‘n boot wat geen inkomste genereer nie.

Die Burger, 22 April 2000

Aktiwiteit 2:

Om die inhoud van ‘n koerantberig op te som

[lu 1.2]

Lees die berig en skryf ‘n opsommende paragraaf van ongeveer 100 woorde.

Assessering

Leeruitkomstes(LUs)
LU 1
AARDRYKSKUNDIGE ONDERSOEK Die leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om aardrykskundige en omgewingsbegrippe en –prosesse te ondersoek.
Assesseringstandaarde(ASe)
Dit is duidelik wanneer die leerder:
  • 1.1 ‘n verskeidenheid aardrykskundige en omgewingsbronne relevant vir ‘n ondersoek identifiseer en kies (gebruik veldwerk en ander ondersoekmetodes) [vind bronne];
  • 1.2 inligting uit kaarte en atlasse en uit grafiese en statistiese bronne interpreteer [werk met bronne].
LU 3
VERKENNING VAN VRAAGSTUKKE Die leerder is in staat om ingeligte besluite oor sosiale en omgewingsvraagstukke en –probleme te neem.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.3 moontlike maniere om hulpbronverbruik te verminder te ondersoek [maak keuses].

Memorandum

AKTIWITEIT 1

  • Lisensiehouers moet verminder word.
  • Strenger maatreëls moet toegepas word.
  • Regering moet meer wetstoepassers aanstel.
  • Gebiedswaters moet beskerm word.
  • Meer kusreservate moet gestig word.

AKTIWITEIT 2

Skryf self ‘n opsommende verslag.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Aardrykskunde graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11035/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Aardrykskunde graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask