Natuurwetenskappe
Graad 8
Omgewing en interaksies
Module 39
Ekologiese probleme en oplossings
Baie van die probleme wat tans in die natuur ervaar word, is deur die mens veroorsaak.
Die mens se grootste knelpunte lê ongetwyfeld in wat kortom as die HIPPO dilemma bekend staan.
H – Habitatverlies
I – Indringerspesies
P – (Pollution) besoedeling
P – Populasietoename (Bevolkingstoename)
O – Oorverbruik
Aktiwiteit 1:
Om die mens se rol in ekologiese probleme te besef en te poog om oplossings te soek
[lu 1.1; 1.2; 1.3; 2.2; 3.1]
Die mens is skuldig aan al vyf. Ons ontbos en kap woude af omdat ons paaie, huise en nywerhede wil oprig. Dink maar net aan die Amasone: ’n geweldige verlies aan plante wat moet bydra tot ons suurstofvoorrade in die lug.
Ons laat toe dat vreemde spesies, veral plante en insekte, areas binnedring waar hul geen natuurlike vyande het nie. Dit hou groot gevare in vir die inheemse spesies wat dan maklik verdring word deur die aggressiewe vreemde spesies. Dink maar net aan Rooikrans op die Kaapse Vlakte of die swartwattelbome langs die riviere in die Boland.
Vreemde bye verdring ook ons eie soorte bye.
Besoedeling is uiteraard een van die grootste probleme. Ons besoedel die lug, die grond en die water met chemikalieë, olie, plastiek, ander bio-onafbreekbare stowwe en met geraas.
Dit alles word vererger deurdat ons bevolkingsgetalle daagliks toeneem (reeds behandel in die Biodiversiteit-module).
Die groot bevolkingsgetalle veroorsaak dus ook oorverbruik van alle natuurlike hulpbronne. Die skaarsste een is natuurlik WATER .
Berei ’n drie-minute praatjie oor die volgende onderwerp voor: “Die mens is nie deel van ’n ekosisteem nie en sodra hy by ’n ekosisteem betrokke raak, versteur hy die sisteem.”
- Skryf die hoofpunte van jou praatjie hieronder neer.
[LU 2.2]
Aktiwiteit 2:
Die volgende projek is op die sinvolle benutting van water as ons belangrikste natuurlike hulpbronne gerig
Projek: WATER-OUDIT BY DIE SKOOL
Verdeel in groepe van vier. Beplan die volgende:
1. hoe julle die waterverbruik in julle skool gaan bepaal;
2. hoe julle die bevindinge in ’n verslag gaan voorstel;
3. watter moontlike gevalle van watervermorsing julle gaan ondersoek;
4. watter aanbevelings julle gaan maak.
- Jou onderwyser gaan ’n datum vir die inhandiging van die verslag bepaal.
- Elke groep dra sy verslag aan die klas voor.
- ’n Samevatting van die finale bevindinge kan aan die bestuur van die skool voorgelê word. ’n Klasbespreking oor watter aanbevelings voorgelê moet word, sal nuttig wees.
- Die volgende ondersoeke kan jou help met die navorsingstaak:
1.watervermorsing by krane
Julle kan die waterverbruik van die gemiddelde leerling met behulp van die volgende stappe bepaal:
verdeel in groepe van vier; julle benodig ’n groot maatsilinder, ’n stophorlosie en ’n emmer;
een persoon in die groep neem tyd;
twee persone drink;
een persoon noteer waarnemings in ’n tabel.
Wanneer die stophorlosie begin, draai die kraan normaal oop en drink met jou hand soos jy normaalweg sou drink terwyl jy die verspilde water in die emmer opvang. Die persoon wat tyd hou, sal jou sê wanneer jy na 30 sekondes moet stop. Een persoon gooi nou die vermorsde water in die maatsilinder en meet hoeveel water verlore gegaan het. Herhaal prosedure vir tweede persoon en verkry ’n gemiddeld.