Liggaamsbou
Die slak se liggaam bestaan uit ‘n kop, voet en boggel. Die boggel bevat die organe (vir voortplanting, vertering, ens.) en word met ‘n skulp bedek. Daar is ‘n asemhalingsopening aan die regterkant onder die skulp. Aan die kop kom vier tentakels voor. Twee dra die oë, terwyl die ander twee as voelers dien. Onder aan die kop is ‘n T-vormige mond.
Beweging
Die slak beweeg deur middel van golfbewegings in die spiervoet. Slym word afgeskei wat die oppervlakte glad maak.
Voeding
Die slak is plantetend en het ‘n raspertong waarmee die plantmateriaal fyn gerasper word.
Asemhaling
Die slak het onder die skulp ‘n bloedvatryke vlies (die mantelvlies) vir asemhaling. Die vlies is deur die asemhalingsopening in verbinding met die buitelug en is dus teen uitdroging beskerm.
Handhawing van waterbalans
Die slak skei slym af wat hom teen uitdroging beskerm. As die spiervoet in die skulp ingetrek is, is slegs die deel van die voet wat teen die oppervlak waarteen die slak sit, buite die skulp. Uitdroging kan dus nie plaasvind nie.
Voortplanting
Die slak lê eiers en die kleintjies lyk soos die volwassenes. Die slak kan beide manlike en vroulike geslagselle dra en bewaar totdat omstandighede vir die oorlewing van kleintjies gunstig is.
Die slak in die ekosisteem
Die slak is plantvretend en is ‘n belangrike skakel in verskeie voedselkettings. Dit is goed aangepas om op land te leef en kan droë toestande oorleef, alhoewel vogtige tydperke vir ‘n gedeelte van die jaar noodsaaklik is.
Opdragte:
1. Beskryf wat in ‘n ekosisteem sou kan gebeur, indien al die slakke deur mense verwyder sou word.
2. Maak ‘n opsomming van die wyses waarop die invertebrate wat ons bestudeer het, aangepas is om in hul spesifieke omgewings te kan oorleef, deur die onderstaande tabel te voltooi:
DIER | VOEDING | ASEMHALING | WATERBALANS |
Erdwurm | |||
Sprinkaan | |||
Spinnekop | |||
Krap | |||
Slak |
3. Navorsingsprojek : Beskryf hoe jy ‘n hoekie van 100 vierkante meter in die dieretuin sal ontwikkel tot ‘n dieretuin vir invertebrate wat selfonderhoudend is (met ander woorde die diere hoef nie gevoer te word nie). Jou onderwyser gaan jou projek in terme van die volgende beoordeel:
- beplanning van die projek (watter invertebrate, watter inligting nodig is, ens.);
- versameling van inligting, bv. oor die toestande wat geskep moet word vir die diere om te kan lewe;
- ontwerp van die dieretuin; en
- evaluering van die ontwerp.
Assessering
Leeruitkomste 1: Die leerder is in staat om met selfvertroue op weetgierigheid oor natuurlike verskynsels te reageer, en om binne die konteks van wetenskap, tegnologie en die omgewing verbande te ondersoek en probleme op te los.
Assesseringstandaard 1.1: Dit is duidelik wanneer die leerder ondersoeke beplan: beplan eenvoudige toetse en vergelykings en dink na oor hoe om dit billik te maak;
Assesseringstandaard 1.2: Dit is duidelik wanneer die leerder ondersoeke uitvoer en data versamel: organiseer en gebruik toerusting of bronne om inligting te versamel en aan te teken.
Assesseringstandaard 1.3: Dit is duidelik wanneer die leerder data evalueer en bevindinge kommunikeer: veralgemeen ten opsigte van ‘n relevante aspek en beskryf hoe die data die veralgemening steun.
Leeruitkomste 2: Die leerder ken, interpreteer en pas wetenskaplike, tegnologiese en omgewingskennis toe.
Assesseringstandaard 2.3: Dit is duidelik wanneer die leerder inligting interpreteer: interpreteer inligting deur kernidees in die teks te identifiseer, patrone in aangetekende data te vind en gevolgtrekkings te maak uit inligting in verskeie vorme (bv. prente, diagramme en geskrewe teks),
Assesseringstandaard 2.4: Dit is duidelik wanneer die leerder kennis toepas in ‘n variasie van ‘n bekende situasie: pas konseptuele kennis toe deur ‘n begrip wat onderrig is met ‘n variasie van ‘n soortgelyke situasie in verband te bring.