<< Chapter < Page Chapter >> Page >

JAPIE GREYLING

Dit was in April 1901 toe die jonge Japie Greyling op sy vader se plaas Smaldeel in die Vrystaatse distrik Hoopstad teen die Britse kaptein James Seeley te staan gekom het. Dié verhaal van onverskrokke heldemoed is een van die dosyne gevalle wat die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 – 1902 tussen Groot-Brittanje en die twee Boere-Republieke van die Oranje-Vrystaat en Transvaal opgelewer het, en waarvan hier enkeles vertel word.

Dat die kind dit nou moes gedoen het, die klein Japie – en hy nog nie elf jaar oud nie! Om ‘n vuurpeloton te daag, sit nie in elkeen se murg nie. Dis die oorlog wat seuns al manne maak as hulle nog albaster moes gespeel het. Pa Greyling en sy twee oudstes is saam met die Vrystaatse magte op kommando. Nou is Japie en sy tweelingbroertjie, afgesien van die meisiekinders, hul ma se stut en steun op die plaas.

Dié Aprilnag het daar weer ‘n klompie burgers op Smaldeel geslaap, maar vanoggend vroeg moes hulle laat spat toe hulle ‘n afdeling Engelse soldate in aantog gewaar. Daar is bange oomblikke terwyl dit lyk asof die Engelse die Boere inhaal, maar dan swaai die burgers in ‘n ruie klofie op en verdwyn.

“Ha! Lekker gefop!” lag Japie waar hy die spulletjie van agter die huis af staan en dophou, en hy loop die kombuis in om vir sy ma koffiewater te gaan opsit.

Nie te lank nie of perdepote klap weer voor die deur. Japie loer buitentoe. Ja, dis die Engelse. Sjoe, maar daardie voorman van hulle lyk boos. Hy is natuurlik vies omdat die Boere hom so maklik uitoorlê het. Japie Greyling lag weer, maar stilletjies.

“Die Engelse kaptein stap met lang hale nader. Alles loop vanoggend skeef, en sy geduld is net mooi op. Hy wéét dat hier ‘n Boere-kommando in die omgewing optree, en hy wil hulle hê. Die kaptein kyk die seuntjie aan en glimlag. Dit sal seker nie moeilik gaan om die inligting uit hóm te kry nie. Hy wink sy tolk nader en beveel: “Vra vir die kind waarheen die Boere is wat nou net hier weggery het.”

“Na hulle kommando toe,” antwoord Japie pront.

Die kaptein se gesig verdonker. “Dit weet ek ook!” sê hy bars.

“Maar wáár is die kommando?”

Japie kyk die kaptein reg in die oê. “Dit sal ek nie sê nie,” antwoord hy.

“Haantjie, né?” mompel die kaptein. “Ek sal gou-gou sy stertvere vir hom pluk!”

Sy groot hand sluit om die seun se skouer en sleep hom oor die werf. In ‘n nou strokie muur tussen die twee deure van ‘n buitegebou stamp hy die kind se smal lyf vas.

“Waar is die Boere?” vra hy. G’n tolk is meer nodig nie. Die seun weet wat die Engelsman wil hê. En die kaptein? Miskien verwag hy reeds die antwoord.

“Ek sal nie sê nie!”

Die kaptein bulder ‘n bevel, en die sersant dra dit aan sy manskappe oor. Ses tree aan, sak knie op die grond neer, gewere oorgehaal, vingers op die snellers gereed. By die seun kan daar g’n twyfel wees oor die Engelse se bedoelings nie. ‘n Vrouestem begin kermend in die kombuis te huil. Iewers voor die deur proes ‘n perd en krap dan ongeduldig grond. Verder is dit stil.

“Waar is die Boere?” kom die vraag, en die seun weet dis die laaste keer.

Tog bly staar hy veragtend na die koel, donker bekke op sy bors gerig. Sy mond is effe oop soos iemand wat sy hande na ‘n prys uitsteek.

“Ek sal nie sê nie!” antwoord Japie.

‘n Oomblik lank stol die toneel: die Boerseun, die Engelse offisier en die wagtende gewere.

Dan wuif die kaptein vir sy manne om hul wapens te laat sak en stap na Japie toe. “Jy is ‘n dapper seun,” sê hy terwyl hy sy hand vasgryp. “Ek hoop dat ek jou weer eendag sal ontmoet!”

Die Engelse klim op hul perde en ry weg, en die moeder storm by die deur uit om haar seun teen haar aan te vertroetel. Maar Japie woel hom los, en hy kyk die Engelse stil agterna met ‘n trek van teleurstelling op sy gesig soos wanneer ‘n kind iets moois beloof is en dit toe nie gekry het nie.

Hierdie, en nog talle ander pragtige heldeverhale in ons land se oorloggeskiedenis, verskyn in die boek van P.W. Grobbelaar (e.a.): Heldeverhale.

Bronnlys:

A. Boëseken: Die Nuusbode

P.W. Grobbelaar, e.a.: Heldeverhale

D. Sleigh: Ruiters teen die Ryk

M.C.E. van Schoor: Spotprente van die Anglo-Boereoorlog, Tafelberg- uitgewers

Assessering

LEERUITKOMS 3: HISTORIESE INTERPRETASIE – Die leerder is in staat om aspekte van geskiedenis te interpreteer
3.1 Wees bewus van meer as een siening van die verlede
3.2 Onderskei tussen feite en menings
3.3 Rekonstrueer verlede

Memorandum

Aktiwiteit 1

(1) (a)

  • Teen Mei 1901 was daar ongeveer 43 000 swartmense in konsentrasiekampe, terwyl tussen 7 000 en 12 000 swartmense daar dood is weens siektes of hongersnood. Swartmense het ook baie grond, diere en ander besittings (huis, oeste) verloor. Swartmense het gehoop om stemreg te kry as die Britte die Boere verslaan – dit het ook nie gebeur nie. Verskaf voorrade, inligting en hulp aan kommando’s, word deur Britte gebruik as transportryers, touleiers, grofsmede, wielmakers, hoefsmede, timmermans, koeriers, verkenners, knegte, arbeiders
  • Boere-generaal wat suksesvolle guerilla-aanvalle teen Britte uitgevoer het.
  • Bekend vir sy goed georganiseerde lokvalle, vinnige ontsnaproetes, opblaas van spoorlyn en knip van telefoondrade.
  • Onverskrokke
  • Moes dalk vroeër oorgegee het om verlies van lewens en eiendom te voorkom/verminder.

(b)

  • Aan die einde van die oorlog was daar meer as 40 kampe met 116 000 blankes en 60 kampe met 115 000 swartmense.
  • Swak huisvesting (tente), ongeskikte voedsel, onvoldoende beddegoed, onhigiëniese sanitêre toestande was algemeen.
  • Toestande in kampe het afgehang van die ligging van die kamp en die bestuur deur die superintendent.
  • Siektes soos masels en longontsteking het baie lewens geëis.
  • Vanaf die winter van 1901 het sterftes baie toegeneem.
  • Altesaam 27 927 Boere (onder andere 26 251 vrouens en kinders) en meer as 14 000 swartmense sterf in konsentrasiekampe.

(2) (a) Brittanje (Boere gee oor).

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Geskiedenis graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11022/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Geskiedenis graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask