<< Chapter < Page | Chapter >> Page > |
AKTIWITEIT 1:
Om begrip van ’n wye verskeidenheid informatiewe tekste te kan toon, deur bv.
Om aan groepbesprekings deel te neem en belangrike kwessies rondom die omgewing te bespreek
ROEP EIEN DALK WALVISSE
Jorisna Bonthuys
1. Walvisroepe sal eersdaags soos vingerafdrukke ingespan kan word om di é soogdiere te help uitken, hoop ’n navorser wat tans hul “stemme” bestudeer.
2. Dié eerste plaaslike studie van die roepe van die suidelike noorkapperwalvisse kan mense se begrip van dié reuse ingrypend verander, glo me. Leonie Hofmeyr-Juritz, ’n doktorale student aan die Universiteit van Pretoria se instituut vir soogdiernavorsing.
3. Sy het die afgelope drie jaar die roepe, trompetklanke, koeiagtige geloei en snorkery van honderde walvisse by Gansbaai en Hermanus opgeneem.
4. Dit blyk die meeste walvisspesies het hul eie repertoire van roepe. Binne die spesie is daar ’n moontlikheid van individuele verskille. Dit is egter nog nie bewys in die geval van suidelike noorkappers nie en word ondersoek.
5. Sommige walvisspesies (soos die swaard- en die boggelrugwalvis) het ’n lingua franca met streekverskille.
6. Hofmeyr-Juritz het reeds 13 verskillende klankgroepe, waaronder stygende en dalende roepe, geïdentifiseer.
7. Walvisse het ’n fyn gehoor en steun op hul vermoë om met klank te kommunikeer. Noorkappers beweeg meestal op hul eie of tydelik in klein groepies (koei-kalfgroepe). Die klanke help hulle om ander noorkappers te vind en oor lang afstande met hulle te kommunikeer.
8. Walvisklanke, waarvan sommige van só ’n lae frekwensie is dat die menslike oor dit nie kan hoor nie, kan tientalle kilometers ver onder water gehoor word. Dit afstand wat die roepe gehoor kan word, word deur die waterdiepte- en temperatuur, asook ander omringende geluide bepaal.
9. Walvisagtiges (Cetaceans) het die grootste klankreeks van enige soogdiergroep.
10. Die swaardwalvis, boggelrug-, vin- en die blouwalvis kommunikeer egter almal hoofsaaklik op verskillende frekwensies.
11. Hofmeyr-Juritz waarsku teen ’n toename in klankbesoedeling van die Suid-Afrikaanse kus.
12. Verhoogde skeeps- en vlootbedrywighede, lugverkeer, mynbou en onderwater-navorsing dra by tot klankbesoedeling wat die gedrags- en moontlik selfs die verspreidingspatroon van walvisse kan beïnvloed. In sommige gevalle het walvisse in ander wêrelddele weens navorsing met eksperimentele aktiewe sonarstelsels selfs gestrand en gevrek, vermoedelik weens erge skade aan hul gehoorstelsel.
13. Buiten fisieke skade aan sommige spesies kan klankbesoedeling noorkappers toenemend van ander walvisse isoleer omdat hulle weens buitensporig hoë klankvlakke hul vermoë om na nader se roepe te luister, inboet.
Uit: Die Burger , 2001
1. Wat is die ooreenkoms tussen vingerafdrukke en walvisroepe?
Notification Switch
Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 9' conversation and receive update notifications?