<< Chapter < Page Chapter >> Page >

“Nou wat moet ek maak as die bliksems begin slaan, oupa Lewies?” het ek eenkeer gevra. “Hoekom sal die blinde sambok my wil slaan?”

“Gideon, jy neuk nie met weerlig nie. Jy swem nie as die weer opsteek nie, jy sorg dat jy uit die nattigheid kom. En as jy in die veld is, loop staan jy nie onder ’n boom of langs die doringdraad nie, jy kom dadelik huis toe en bly binne. En as jy in die huis is, maak jy die spieëls toe met ’n laken en jy klim nie op die telefoon om met almal te wil

klets nie. Hier in die kontrei is al drie mense op een slag deur die telefoon doodgeslaan net omdat hulle alewig met mekaar moet praat.”

“Drie mense op een telefoon?” het ek verbaas gevra.

“Ja,” het oupa Lewies gesê, “twee wat terstond met mekaar moes praat oor die donderweer, en een antie wat ingeluister het. Hulle het haar met die telefoon nog in die hand dood gekry. Dit was die laaste keer dat sy ingeluister het.”

Ek het bietjie geskrik toe ek dit hoor. As die weerlig om die huis begin slaan, loop ek met my rug styf teen die muur gedruk verby die telefoon in die gang.

Toe dit buite dreigend donker word en die bliksemstrale sommer hier by ons begin slaan sodat ons die swael van die ysterklippe kon ruik, het my ma vir my en Bhubesi ingeroep. Teen dié tyd wou ons self ook al inkom.

Ons het in my ma-hulle se slaapkamer voor die spieëlkas gaan staan en vir onsself gekyk. Ek het nie gedink dis nodig om die spieël met ’n lap toe te gooi nie, want my ma het dit nooit gedoen nie. Buitendien was die gordyne toegetrek, dan werk dit net so goed soos ’n lap. Dit was donker in die kamer. Ek het vir Bhubesi voor my laat staan en die twee vlerke van die spieël om ons gesigte toegevou. Ewe skielik was daar baie koppe om ons, my en Bhubesi s’n, sy swart gesig en my wit een, en baie ander swart en wit gesigte, gesigte wat net soos ons s’n lyk. As ons lag, het hulle ook gelag, as ons ons koppe draai, dan draai hulle s’n saam; die een helfte diékant toe, die ander helfte dáárdie kant toe.

’n Weerligstraal het skielik net buite die huis geslaan; hard, dit het soos ’n sweepslag geklink.

“Dis die mpundulu wat skree . . .” het Bhubesi saggies vir die spieël gefluister, sy oë groot en rond in die skemerte.

“En die mpundulu kom jou haal!” het ek skielik op my hardste agter hom gegil en my naels hard in sy nek geslaan.

“Suka!” het hy geskree. Van skrik het hy heeltemal omgeslaan en die vlerke van die spieël oopgeklap. Al die gesigte het verdwyn. Bhubesi het uitgerek begin skree-huil van die skrik. Ek wou my vrek lag. Toe hy sien hoe ek lag, het hy dikbek op die vloer gaan sit, sy kop op sy arms en opgetrekte bene. Ek het voor my ma se spieël bly staan, vir myself skewebek getrek. Dit was nou net ek in die spieël, en dit was nie soveel pret nie.

Buite het die reën op die dak met mag en mening neergeslaan. Ek kon nie eens meer hoor hoe Bhubesi kerm nie. Maar dit het net ’n paar minute lank gereën en toe skielik opgehou. Selfs hier binne in die kamer kon ons die reën en die nat grond ruik.

“Kom, Bhubesi!”

Bhubesi was oor sy skrik. Hy sou my op ’n ander dag op ’n ander manier terugkry, het ons al twee geweet.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11038/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask