<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 7

Module 12

Uit die afrikaanse literêre skatkis

‘n juweel van ‘n gedig

Dopper Joris en Sy Seiltjie

Onder ‘n boompie by die watersloot

Sit Spekie met haar Joris en vry:

Hy praat van koperledekante

En ‘n skimmelhings wat sy sal ry.

Hy sê dat sy oorlede paatjie

Hom duisend hamels en ‘n ram

-‘n opregte Franse ram – gegee het,

En ‘n woonhuis by die middeldam.

‘n Wa en span met soetveld-osse

‘n Spikkelspan. En hulle trek tog, reg!

En hul bulk, ja, nes die ware duiwel,

Nes die wind trek hulle van die staanplek weg!

En twee sterk koperhoepel-emmers

Het oorlede paatjie ook gegee,

En ‘n ring wat maatjie opgetel het

Toe paatjie siek was by die see.

En ‘n borsspeld vol met rooi klippies,

En ‘n perdesweep met ‘n koperknop,

En ‘n teepot met drie silwer voetjies,

En die deksel het ‘n duif daarop.

En ‘n klok en dertien riempiestoele,

‘n Bulsak en ‘n ledekant,

Twee ingelegde geelhouttafels,

En ‘n prentjie met die plae van Egipteland.

En ook nog ‘n spul met romlary,

‘n Kar op vere en ‘n fariseen,

En ‘n Bybel wat maatjie eens gekoop het

Van die smous Aaron Oepl Behn.

Maar, tog makeer ek nog een ding;

Dit maak my, Spekie, siek van smart:

My wa is sonder buiteseiltjie!

Wil jy my seiltjie wees, my hart?

Pulvermacher (Adam de Smidt)Uit: Het Volksblad , 1873

  1. Opsomming

Joris en Spekie is nooi en kêrel. Dit is Sondagmiddag en Joris het by haar gaan kuier. Hulle sit langs die watersloot onder ‘n boom en gesels.

Joris wil dolgraag met Spekie trou, maar hy weet nie hoe om vir haar te vra nie want hy het nie die selfvertroue van ‘n stadsjapie nie.

Maar Joris is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Hy dink as hy haar kan beїndruk met al die besittings wat hy van sy pa geërf het, dat sy met hom sal trou, want hy is mos ‘n ryk man!

Ewe beskeie begin hy al sy besittings opnoem, maar hoe meer goed hy opnoem, hoe meer kry sy opgewondenheid die oorhand oor hom, en babbel hy voort.

Dan, in die slotstrofe kom die verrassing: Joris vra vir Spekie om met hom te trou!

Opdrag 1:

Om antwoorde uit die gegewe teks af te lei

[lu 3.2]

Lees die gedig aandagtig deur en beantwoord die volgende vrae:

  • Waar sit die verliefdes?
  • Wat doen hulle daar?
  • Wat is hul name?
  • Wie is aan die woord?
  • Maak ‘n lys van al Dopper Joris se besittings:
  • Dopper Joris is só opgewonde dat hy al sy besittings sommer deurmekaar opnoem.

Groepeer die besittings onder die volgende hofies:

Diere

Voertuie

Huishoudelike items

Losgoed

Geboue

  • Maar een ding ontbreek nog in Joris se lewe. Wat is dit?
  • Wanneer is hierdie gedig geskryf?
  • Waarmee het die mense in daardie tyd gery?
  • In die slotstrofe sê Joris nie “Spekie, sal jy met my trou?” nie. Hoe vra hy die jawoord?

Opdrag 2:

Om idiomatiese uitdrukkings op gepaste manier te gebruik

[lu 3.9, 6.4.3]

In die inskrywing hieronder in die verklarende woordeboek kom daar vyf idiome voor. Skryf eers die idioom neer, en dan die betekenis daarvan.

speek , (s), speke . Hout- of ysterstut, styl of verbinding tussen naaf en veiling; daar is ‘n ~ LOS , daar is iets verkeerd, nie in die haak nie; die ONDERSTE ~ kom ook bo , elke mens kry sy kans; die armste kan ook ryk word; iem. met ‘n OU ~ doodslaan , gesê as uiting van minagting en ergernis; jou speke ROER , jou haas, gou maak ; ‘n ~ in die WIEL steek, teëwerk, dwarsboom .

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask