<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 5

Van melkhoutboom tot sms

Module 1

Luister en lees

AKTIWITEIT 1

OM NA ‘N INFORMATIEWE TEKS TE LUISTER [LU 1.1]

OM LUIDLEES DUIDELIK EN TEEN GEPASTE SPOED TE DOEN [LU 3.1.2]

a) Luister aandagtig na jou opvoeder as hy/sy die volgende gedeelte aan jou voorlees. Daarna kan jy en ‘n maat dit aan mekaar voorlees voordat julle die vrae probeer beantwoord.

‘n Melkhoutboom as poskantoor

Julle sal in graad 6 in die leerarea Geskiedenis leer dat die Portugese in die vyftiende eeu die voortou geneem het in pogings om die onbekende oseane te verken en nuwe lande te ontdek. Later, in 1488, was Bartolomeus Dias die eerste bevelvoerder wat met sy klein skepies om die suidpunt van Afrika geseil het nadat hulle baie weke op see was en deur sterk winde geteister is. Hy wou by die huidige Gouritsriviermond aan wal gaan, maar weens die groot branders kon hy nie en moes hy sy matrose opdrag gee om verder te seil.

Nie veel verder nie het hulle anker gegooi in ‘n beskutte baai wat hy “Aguada de São Bras” (Waterdrinkplek van Sint Blaize) gedoop het, omdat hulle ‘n varswaterfontein daar gevind het. Vir etlike jare daarna het Portugese skepe op pad na die Verre Ooste daar aangedoen om vars water en vleis in te skeep.

In 1500 het kapt. Pedro de Ataide op pad terug van die Ooste na Portugal in die baai anker gegooi. Onder ‘n groot melkhoutboom het hy in ‘n matroos se skoen ‘n boodskap gelaat oor die ramp wat sy vloot op see getref het. Drie maande later, in 1501, het die bevelvoerder van die Derde Oos-Indiese Vloot die brief gevind en gesorg dat dit veilig in Portugal afgelewer word. So het die eerste “poskantoor” in Suid-Afrika ontstaan.

Dié baai is later deur die Hollanders herdoop na Mosselbaai, soos die dorp aan ons suidkus vandag nog bekend is. As julle Mosselbaai besoek, sal julle dieselfde ou melkhoutboom nog daar vind – reusagtig groot. Dit is tot nasionale monument verklaar en staan bekend as Die Posboom. Daar is ook ‘n posbus in die vorm van ‘n groot skoen waarin briewe en poskaarte gepos kan word. Sulke posstukke kry ‘n spesiale stempel wat die ontvanger daaraan herinner dat Suid-Afrika se eerste poskantoor eintlik ‘n boom was!

b) Beantwoord nou die volgende vrae. Onthou om altyd netjies te skryf, te probeer seker maak dat jy die woorde reg spel en dat jou Afrikaans keurig is.

  1. Om die voortou te neem beteken om __ ?
  2. Om watter rede(s) sou Dias by Gouritsrivier aan wal wou gaan?
  3. Skryf in jou eie woorde wat ‘n “beskutte” baai is.
  4. Hulle het vars water uit ‘n fontein daar gekry? Waar en hoe, dink jy, het hulle vars vleis gekry?
  5. Skryf in twee sinne in jou eie woorde hoe die eerste “poskantoor” in ons land ontstaan het.
  6. In watter provinsie is Mosselbaai en waarvoor is dit bekend, behalwe vir die posboom?
  7. Kan jy dalk ‘n paar voorbeelde noem van interessante posbusse wat jy al voor mense se huise gesien het?

AKTIWITEIT 2

OM TE VOORSPEL WAT SOU KON GEBEUR

[LU 5.4.2]

Groepwerk (in drieë): Julle is deel van die bemanning van ‘n skip wat in die jaar 1500 op pad is na die Verre Ooste. Julle skip strand êrens aan die kus van Afrika, maar julle kom veilig aan wal. Bespreek eers die opdrag hieronder en vertel dan in drie minute (een minuut elk) aan die klas.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 5. OpenStax CNX. Sep 04, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10969/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask