<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 5

Van melkhoutboom tot sms

Module 5

Ma, ek wil ‘n selfoon hê!

AKTIWITEIT 1

OM DIE ALGEMENE IDEE UIT ‘N LEESSTUK TE VERKRY

[LU 3.1.1]

Lees die onderstaande gedeelte minstens twee keer aandagtig deur. Jy gaan gevra word om jou eie mening oor die saak te lug.

Bykans elke ouer het al die volgende van sy kind gehoor: “Ek wil ‘n selfoon hê.”

En wanneer jy vra: “Maar hoekom het jy ‘n selfoon nodig?” is die antwoord: “Maar al die kinders het een.” Of: ‘’Dis cool om een te hê.” Of: “Weet Pa en Ma nie dis nodig in ‘n krisis nie?”

Moet jy regtig ‘n selfoon hê? Het jy regtig ‘n selfoon nodig? Is dit nie sommer net ‘n lawwe gier nie? Is dit ‘n soort statussimbool onder julle – om te kyk wie het die nuutste, mooiste selfoon?

Ons weet daar is gevare verbonde aan die verkeerde gebruik van selfone. Met sommige selfone kan ‘n mens toegang tot die internet verkry, en daarmee saam blootstelling aan slegte dinge soos pornografie. Kinders kan vir mekaar vuil prentjies en vulgêre grappe stuur. Verder het ouers ook nie beheer oor met wie hulle kind kommunikeer nie. Selfone is ook gewilde items vir diewe om te steel en dit raak dus maklik weg.

Om ‘n selfoon te besit het natuurlik ook voordele. Vir veiligheidsredes is ‘n selfoon ‘n groot pluspunt, soos in ‘n noodgeval – veral met die hoë misdaadvlakke in ons land. ‘n Selfoon is ook nuttig vir skakeling tussen ouer en kind om reëlings te tref. Dis tydbesparend en vergemaklik kontak in die besige program van ‘n gesin.

Daar is natuurlik ‘n hele paar dinge wat jou ouers in gedagte sal moet hou voordat hulle besluit om vir jou ‘n selfoon te gee. Hulle sal byvoorbeeld moet besluit of jy oud genoeg is om dit op te pas, of jy verantwoordelik genoeg is om dit reg te gebruik, of hulle dit kan bekostig, en natuurlik of jy werklik ‘n selfoon nodig het.

Jy moet dus nie ‘n selfoon sien as ‘n lekker duur speelding nie. Dit moet vir almal – vir volwassenes ook – dien as ‘n praktiese kommunikasiemiddel wat spaarsaam benut word.

Ouers behoort vir hulle kinders riglyne neer te lê oor die gebruik van ‘n selfoon. Julle behoort nie onbeperkte tyd op ‘n foon toegelaat te word nie. Julle ouers moet perke stel sodat julle ook daaruit kan leer. Só kan vooruitbetaalde lugtyd gekoop word, sodat julle kan leer om met julle lugtyd en geld te werk. Hiermee saam kom ook die beginsel van verantwoordelikheid: Leer om jou selfoon op te pas, want daar is gevolge wanneer dit wegraak. Jy moet ook deur jou ouers geleer word wanneer jy jou selfoon nie behoort te gebruik nie.

(Artikel deur S.T. Potgieter in Tygerburger , 12 Oktober 2005 – Aangepas)

Wat sê jy daarvan?

Wat is volgens jou mening die hoofgedagte in die leesstuk? Skryf dit neer.

AKTIWITEIT 2

OM EIE MENING OOR ‘N VRAAGSTUK TE LUG EN REDES DAARVOOR TE GEE [LU 2.1.6; 3.5.3]

OM BEURTE TE NEEM OM TE PRAAT EN ANDER SE MENING TE RESPEKTEER [2.2.1]

OM TUSSEN VOOR- EN NADELE TE ONDERSKEI [LU 5.1.3]

Julle opvoeder gaan nou vir julle geleentheid gee om oor die onderwerp te praat. Wat is jou mening daaroor? Jy moet ook sê waarom jy so dink.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 5. OpenStax CNX. Sep 04, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10969/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask