AFRIKAANS EERSTE ADDISIONELE TAAL
Graad 4
DORP TOE
Module 30
OP DIE MARK
Aktiwiteit 1
Om op gepaste vlak te lees en vrae daaroor te beantwoord [LU 3.5.1]
Markdag
('n Stilleesaktiwiteit)
Lees die gedig op jou eie en beantwoord die vrae deur die regte antwoord te omkring.
MARKDAG
Dis Saterdagmôre
en 'n hele affêre -
kraakvars kopkool,
piesangs, papajas,
tamaties en slaai
word kiste-vol
by die mark
afgelaai.
Daar's ook druiwe
uit die Boland,
waatlemoen,
spanspekke uit Transvaal:
alles kry jy goedkoop
as jy kontant
by die
stalletjies betaal.
Met alkant gestoot
en beduie, beduie
en baie gepraat
oor die prys
word een ding gekoop
en 'n ander gelaat.
Maar so deur die gedoente
word die kopers se mandjies
propvol vrugte en groente.
Ja, Saterdagmôre
is 'n hele affêre
as die kopers hul geld
so kom omruil-bêre.
Deur: A. J. VisserUit: Hier Kiep-Kiep en Hiep-hiep daar (Tafelberg)
VRAE
(a) Die vrugtesoort wat vanuit die Boland kom, is
- piesangs
- druiwe
- waatlemoene
(b) Die groente word by die mark afgelaai in
- kiste
- mandjies
- sakke
(c) Die kopers laai die vrugte en groente in
- kiste
- mandjies
- sakke
- trollies
(d) Wat noem ons die plek waar net groente en vrugte gekoop word ?
- winkel
- kafee
- mark
(e) As jy kontant vir die produkte betaal, kry jy
- meer
- beter diens
- dit goedkoper
(f) Die verkopers verkoop hul produkte by 'n
- stalletjie
- kis
- tafel
(g) Markdag is op 'n
- Sondag
- Saterdag
- Maandag
(h) Spanspek kom uit die
- Kaap
- Transvaal
- Boland
(i) Daar word baie gepraat oor
- die mense
- die vrugte
- die prys
(j) Die kopkool is
- neutvars
- kraakvars
- perdfris
Assessering
Leeruitkoms 3: lees en kyk
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Assesseringstandaard
Dis duidelik wanneer die leerder:
3.5 vir genot en inligting lees:
3.5.1 heelwat fiksie- en nie-fiksie-boeke op ‘n gepaste lees- en taalvlak lees.
Memorandum
Aktiwiteit 1
(a) druiwe
(b) kiste
(c) mandjies
(d) mark
(e) dit goedkoper
(f) stalletjie
(g) Saterdag
(h) Transvaal
(i) die prys
(j) kraakvars