Natuurwetenskappe
Graad 9
Energie, kragte en masjiene
Module 20
Arbeid
Aktiwiteit:
Om arbeid (werkverrigting) te bereken
[lu 2.3; lu 2.4]
Ons het nou vasgestel dat voorwerpe beweeg kan word deur KRAGTE aan te wend. Hierdie aanwending van kragte beteken egter dat daar WERK verrig word. ARBEID is die wetenskaplike term vir hierdie werkverrigting.
Ons sê dit neem 1 Joule se werk as 1 Newton se krag oor 1 meter beweeg word!
- Onthou dat werkverrigting eintlik energieverbruik aandui. ’n Joule is dus ’n aanduiding van die hoeveelheid energie wat nodig is om 1 N oor ’n afstand van 1 meter te beweeg.
Vrae:
1. Hoeveel arbeid verrig jy as jy:
a) ’n 10 N-baksteen oor 3 meter trek?
b) ’n baksteen met 2,5 kg massa oor 5 m trek?
2. ’n Sjokoladestafie het ’n energiewaarde van 300 kJ. Hoeveel van hierdie 2,5 kg bakstene sal jy met hierdie energie 5 meter ver kan trek?
3. Hoe ver kan jy met die energie van nog so ’n sjokoladestafie een so ’n baksteen trek?
Jy het die formule :
W = F × s gebruik
W : Werk of arbeid F : krag (“force”) s : afstand
- Werk nou gou uit hoeveel energie verbruik word om jou oor ’n afstand van 10 m te beweeg.
Jou onderwyser sal jou nog berekeningsoefeninge gee om te doen.
Assessering van BEREKENING VAN ENERGIEVERBRUIK (ARBEID)
[LU 2.3; LU 2.4]
Assessering
LU 2
Konstruksie van Wetenskapkennis
Die leerder ken, interpreteer en pas wetenskaplike, tegnologiese en omgewings- kennis toe.
Dit word bewys as die leerder:
2.1 betekenisvolle inligting kan oproep;
2.2 inligting kan kategoriseer;
2.3 inligting kan interpreteer;
2.4 kennis kan toepas.
Memorandum
Aktiwiteit
Vrae:
1. a) F X s = 10N X 3m = 30 Joule
b) F X s = (2,5 X 10) X 5 = 125J
2. 300 kJ = 300 000J gedeel deur 125J = 2 400 stene
3. 300 000J gedeel deur 25N = 12 000m = 12 km
- Energie benodig om leerder oor afstand van 10m te beweeg:
Leerder se massa = A
W (energie) = F(krag) X s (afstand) = (A X 10) X 10m