<< Chapter < Page Chapter >> Page >

LU 3.4

Bladsy 1: Gesels met die leerders oor die begrippe, ooreenkomste en verskille. Laat hulle dit prakties oefen deur byvoorbeeld tydskrifprente van motors, ensovoorts te vergelyk. Help hulle om op kleure, grootte en

ander kriteria te konsentreer. (Die twee motors verskil, want die een is geel en die ander rooi, maar hulle het ook sekere ooreenkomste: albei het vier deure en vier wiele.) Daarna moet elke leerder ‘n prent teken van sy eie huis, asook van Willie se huis. Laat hulle die prente in hulle groepe op die mat bespreek. Elke leerder moet twee ooreenkomste en twee verskille tussen die twee huise identifiseer. Indien nodig, kan die klas weer gesels oor alles wat hulle van Willie se huis weet. (Dit is ‘n boomhuis, in die bos, het ‘n lang trapleer, ens.)

Lees daarna die storie “Willie kom kuier” aan die klas voor. Gesels oor die vrae wat in die storie gevra word.

LU 2.8

Aktiwiteit word in groepe gedoen. Verdeel die klas in groepe van 5 - 6 leerders. Hulle moet in hulle groepe besluit op vier aktiwiteite wat hulle graag saam met Willie sal wil doen wanneer hy kom kuier. Hulle moet ook vier goed identifiseer waarmee Willie dalk kan sukkel as hy kom kuier. (Laat hulle een of twee voorbeelde noem om hulle aan die dink te sit.)

Die leerders behoort teen hierdie tyd al redelik gewoond te wees aan groepwerk. Gee weer aan die leerders verskillende rolle. Een is groepleier, een is tydhouer, een is die geraasdemper (wat seker maak dat die groepie nie te luidrugtig is nie), een of twee leerders skryf / teken hulle voorstelle op papier en een gee terugvoer.

Laat genoeg tyd toe vir terugvoer van die verskillende groepe en klasbespreking.

LU 2.8

Op die volgende bladsy skryf elke leerder sy eie storie oor “Willie kom kuier”. Hierdie stories kan later gebind word en elke leerder kan geleentheid kry om self sy storie aan die klas voor te lees. Elkeen kan ook sy eie storie illustreer. Leerders moet soms geleentheid kry om ‘n storie wat hulle self geskryf het, hardop voor te lees. Dit help hulle om foute wat mag voorkom (byvoorbeeld woorde wat uitgelaat is), self raak te sien en reg te stel.

Leerders afdeling

Inhoud

Willie kom kuier

Ons het nou al baie keer gaan loer wat Willie en sy maatjies in die bos maak. Saam het ons gesien hoe die boomhuis lyk en het ons gesien hoe hulle almal in Meneer Mol se moltrein ry. Maar hoe sal dit wees om regtig saam met Willie in die bos rond te loop en hoe sal dit wees as Willie ‘n slag by jou kom kuier?

Watter speletjies sal jy saam met Willie speel? Sal julle ook gaan visvang en wegkruipertjie speel soos wat Willie en sy maatjies in die bos doen, of sal jy vir hom ander speletjies wys? Watter speletjies speel jy en jou maatjies as julle ‘n kansie kry? Waar loop julle rond? Waarmee ry julle as julle iewers heen gaan, en watter kos eet julle? Is dit anders as die dinge waaraan Willie gewoond is? Wat dink jy sal hy sê as hy sien hoe dinge daar by jou lyk?

Hoe lyk jou huis? Lyk dit anders as die boomhuis waarin Willie en sy gesin woon? Dink jy Willie sal daarvan hou om in jou huis te bly? Is daar dinge waarmee hy sal sukkel? Watter goed sal vir hom heeltemal vreemd wees?

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 1. OpenStax CNX. Sep 08, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11010/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 1' conversation and receive update notifications?

Ask