<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Lewensoriëntering

Graad 7

Persoonlike ontwikkeling

Module 10

Strategie vir die implementering en uitbou van eie en ander se selfbeeld deur positiewe optrede

Aktiwiteit 1:

Om vrae te beantwoord nadat ‘n koerantberig met aandag gelees is [LU 3.1]

Individuele opdrag

  1. Lees die volgende koerantberig met aandag deur:

Sa Swemmer In Koningin Se Jubileumblad

LONDEN- Die Kaapse swemmer Natalie du Toit word in die amptelike gedenkpublikasie vir koningin Elizabeth se goue jubileum uitgesonder as ‘n jongmens wat die "gees van die toekoms" vergestalt .

Die 18-jarige Natalie, ‘n nasionale swemkampioen, het verlede jaar haar been in ‘n motorfietsongeluk in die Kaap verloor terwyl sy haar vir die Olimpiese Spele in 2004 voorberei het. Sy is steeds vasbeslote om ‘n Olimpiese medalje te wen.

Sy is een van net agt jongmense wat uit altesame 54 Statebondslande gekies is om in die glansryke publikasie te verskyn. Hulle het volgens die Buckingham-paleis "struikelblokke te bowe gekom en begeester mense".

Daar is ook spesiale melding gemaak van die Johannesburgse kinder-vigs-aktivis, Nkosi Johnson, wat verlede Junie op 12-jarige ouderdom weens vigs gesterf het.

Volgens die redakteur, Gaythorne Silvester, is Natalie uit derduisende jongmense in die Statebondslande gekies omdat sy "so uitsonderlik gereageer het op die uitdagings wat oor haar pad gekom het.”

"Natalie is iemand wat volgens die Buckingham-paleis die gees van die toekoms vergestalt. Ons was dadelik aangegryp toe ons van haar dapper verhaal deur die British Council in Suid-Afrika hoor," het hy verduidelik.

Luidens die publikasie kon die noodlot haar nie ‘n wreder hou toegedien het as toe ‘n motor teen haar linkerbeen vasgery het nie. Na 15 maande is haar ambisie egter onveranderd en staan sy haar plek vol tussen ander "gesonde" deelnemers.

Natalie, wat ‘n kunsbeen het, vertel in die publikasie hoe sy aanvanklik gesukkel het om te oefen, maar dat sy haar nie as gestrem beskou nie. “Ek kan steeds loop, hardloop en selfs fietsry. Die belangrikste is dat ek steeds kan swem. Dit is danksy my geloof," het sy gesê.

Gister het sy uit Kaapstad gesê dit is ‘n eer om op so ‘n manier uitgesonder te word.

"Ek sou nooit eers daaraan gedink het nie," het sy gesê.

Volgens Natalie dink sy nie aan haarself as ‘n "ander mens" as voor die ongeluk waarin sy haar been verloor het nie.

Onder die agt jong mense wie se lewensverhaal in die blad uitgelig word, is ‘n Australiese mediese student wat in afgesonderde gemeenskappe werk, ‘n Jamaikaanse meisie wat geld vir behoeftige kinders insamel, ‘n 15-jarige Nigeriese sokkerafrigter wat kinders leierskap deur sport leer en ‘n Kanadese kinderregte-aktivis.

Uit: Die Burger 1 Mei 2002

Beantwoord die volgende vrae op ‘n aparte stuk papier:

  • Noem ten minste drie positiewe karaktereienskappe wat Natalie openbaar.
  • Wat dink jy sou jy onder dieselfde omstandighede gedoen het?
  • Watter groot struikelblokke het al die lewe vir jou moeilik gemaak?
  • Hoe het jy daardie struikelblokke hanteer?
  • Noem een ander persoon in jou gesin, skool of gemeenskap wat jy ook as ‘n uitsonderlike voorbeeld vir ander sien.
  • Die koningin skryf dat Natalie die "gees van die toekoms" vergestalt. Wat bedoel sy hiermee?
  • Watter positiewe kenmerke sal jy vir jouself en ander Suid-Afrikaners wil toe-eien om ook deel te wees van die "gees van die toekoms”?
  • As jy ‘n groot terugslag beleef, wat sal jy doen om dit te bowe te kom?
  • Hoe kan jy ander mense met probleme of fisiese gebreke ondersteun sodat hulle hulle struikelblokke kan oorwin?
  • As jy ‘n gedenkpublikasie moet saamstel oor jong mense wat struikelblokke te bowe gekom het en sodoende ander mense begeester het, wie sal jy daarin plaas en hoekom?

Aktiwiteit 2:

Om ‘n dokument op te stel wat jongmense gedenk wat ‘n voorbeeld stel vir ander [LU 3.1]

Groepopdrag

Stel ‘n gedenkpublikasie op met agt jongmense wat, soos Natalie du Toit, persoonlike struikelblokke oorwin het en ‘n voorbeeld stel vir ander Suid-Afrikaners.

Assessering

Leeruitkomstes(LUs)
LU 3
Persoonlike ontwikkelingDie leerder is in staat om verworwe lewensvaardighede te gebruik om persoonlike potensiaal te verwesenlik en uit te brei ten einde doeltreffend op uitdagings in sy/haar wêreld te reageer.
Assesseringstandaarde(ASe)
Dit is duidelik wanneer die leerder
  • verslag doen oor die implementering van strategieë om eie en ander se selfbeeld deur positiewe optrede te bevorder;
3.2 media- en ander invloede op persoonlike lewenstylkeuses evalueer en gepaste reaksies voorstel;
3.3 sy/haar eie hantering van emosies en eie reaksie op verandering verduidelik en evalueer;
  • bewyse van respek vir ander en die vermoë om op ’n opbouende manier te verskil toon;
3.5 besluitnemingsvaardighede toon en daaroor besin;
3.6 sy/haar eie strategieë vir studievaardighede krities evalueer.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Lewensorientering graad 7. OpenStax CNX. Sep 10, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11028/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Lewensorientering graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask