<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Die storie van Donderweer en Weerlig

Lank gelede het Donderweer en Weerlig op die aarde tussen die mense gewoon. Donderweer en Weerlig was skape. Donderweer was die ma en Weerlig, haar seun, ‘n ram.

Hierdie twee diere was nie gewild onder die mense nie, aangesien Weerlig graag skoor gesoek het met die mense. Sodra hulle hom teengaan, het hy kwaad geword en alles afgebrand wat voor hom kom, selfs hutte en groot bome. Hy het dikwels die oeste op die plase vernietig en soms is selfs mense wat in sy pad gestaan het, ook so gestraf.

Wanneer Donderweer agtergekom het dat Weerlig hom so gedra, het sy so hard as wat sy kon op hom geskree – dit was baie, baie, baie hard! Die bure was natuurlik elke keer erg ontsteld: eerstens oor die skade wat deur Weerlig veroorsaak is en tweedens oor die ondraaglike lawaai van sy ma wat altyd op sy uitbarstings gevolg het.

Die inwoners van die dorp het gereeld by die koning gekla, totdat hy die twee uiteindelik weggestuur het na die uithoeke van die dorp met die opdrag dat hulle nie meer met die inwoners van die dorp kontak mag hê nie.

Dit het egter nie gehelp nie, aangesien Weerlig nog steeds die mense kon sien rondloop in die dorp se strate en so kon aanhou skoor soek.

Die koning het die twee weer ontbied en vir hulle gesê:

“Ek het julle baie kanse op ‘n beter lewe gegee, maar ek kan sien dat dit tevergeefs is. Julle sal van nou af weggaan uit ons dorpie en in die wildernis gaan bly. Ons wil julle nooit weer hier sien nie!”

Donderweer en Weerlig kon nie anders as om die koning te gehoorsaam nie en berus in die koning se beslissing. Hulle het wel die dorpie verlaat , maar hulle was kwaad vir die inwoners.

Daar het egter nog baie moeilikheid op die inwoners van die dorp gewag!

Weerlig was so kwaad omdat hy verban is, dat hy die hele bos aan die brand gesteek het. Aangesien dit baie droog was, het die vlamme versprei na die naburige klein plasies en selfs tot by sommige hutte. Die mense het weer eens gewanhoop. Hulle het die ma se magtige stem gehoor in haar poging om hom te keer, maar soos altyd was dit te laat, aangesien die skade reeds aangerig is.

Die koning het al sy raadslede bymekaar geroep en hulle raad gevra. Na ‘n lang debat het hulle uiteindelik op ‘n idee besluit. Hulle sou vir Donderweer en Weerlig heeltemal van die aarde af verban. Die twee moes bo in die hemelruim gaan woon. Die koning het dit dan ook so aan hulle bekend gemaak.

Donderweer en Weerlig is weggestuur om in die hemelruim te gaan woon waar hulle nie meer skade aan die mense kon aanrig nie. Of so het die mense gehoop! Maar dinge het nie heeltemal so uitgewerk nie.

Weerlig verloor nog steeds sy humeur van tyd tot tyd en kan dit nie weerstaan om vuur af aarde toe te stuur nie. Dan kan jy hoor hoe sy ma hom berispe met ‘n harde gerommel.

Die klas verdeel in vier groepe: elke groep word deur ‘n spesifieke simbool verteenwoordig. Dui aan in watter groep jy is.

Donderweer

Weerlig en vuur

Mense

Koning

My patroon:

...................................................................................................................................

Gebruik nou die simbole om die verhaal te vertel.

Sodra julle die verhaal in musiek ken, kan julle weer die verhaal lees en besluit waar julle hard of sag moet speel. Hoe verder Donderweer en Weerlig weg gestuur word, hoe sagter sal die klank wees; hoe kwater die mense raak hoe harder sal die klank wees! Maak gebruik van die afkortings wat hieronder gegee word en voeg dit by.

pp = baie sag

ff = baie hard

mp = matig sag

mf = matig hard

Assessering

LEERUITKOMS 1: SKEPPING, INTERPRETERING EN PRESENTERING Die leerder kan in elk van die kunsvorme skep, interpreteer en werk presenteer.

Assesseringstandaard

Dis duidelik wanneer die leerder:

1.6 die stem, liggaam, klank voorwerpe en self vervaardigde instrumente gebruik om klank en stilte te ondersoek wat verband hou met stap, hardloop en huppel nootwaardes, en sodoende ritmes ondersoek en klankstukke skep;

1.7 ‘n kort ritmiese patroon bestaande uit kwartnote, kwartruste, halfnote en halfruste kan komponeer en voordra m.b.v. liggaamsperkussie;

  • ‘n eenvoudige blaasinstrument (soos Kazoo of Tsikona/Dinaka fluit), of slaginstrument (soos marakkas/ratel/skudkoker) met verskillende timbres kan maak;

1.9 die stem, klank voorwerpe en natuurlike instrumente gebruik om melodieë te skep en aan te bied wat verskille in toonhoogte en nootwaardes demonstreer.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Kuns en kultuur graad 4. OpenStax CNX. Sep 17, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11088/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Kuns en kultuur graad 4' conversation and receive update notifications?

Ask