<< Chapter < Page Chapter >> Page >

STEM VAN ALLE ORGANISASIES IS GEHOOR - Asmal

Alet Rademeyer

Ouers sal in die toekoms oor godsdiensbeoefening op skool mag besluit.

Ingevolge die finale godsdiensbeleid vir skole wat gister in die parlement bekend gemaak is, mag beheerliggame van skole besluit hóé en óf hulle godsdiensbeoefening wil aanbied, solank die beginsel van vrywillige deelname en gelykheid toegepas word.

Volgens die beleid kan “erkenning” aan die multigeloofsaard van ‘n skool gegee word deur leerlinge byvoorbeeld op grond van hulle godsdiens te skei vir godsdiensbeoefening.

Leerlinge van verskillende gelowe in dieselfde skool sal egter nie vir die normale saalbyeenkoms geskei kan word nie.

Die beleid maak voorsiening vir godsdiensbeoefening op roterende grondslag in verhouding tot die verteenwoordiging van die verskillende gelowe in die skool. In beginsel sou dit beteken ‘n skool sal voorkeur kan gee aan die godsdiens van die meerderheid van sy leerders.

In dieselfde asem maan die beleid dat waar godsdiensbeoefening georganiseer word as deel van die skooldag, die multi-religieuse aard van die land op toepaslike wyse weerspieël moet word.

Nog voorbeelde van hoe skole multi-geloof kan uitleef, is deur uit tekste van die verskillende godsdienste voor te lees en ‘n universele gebed of tyd van stilte te gebruik.

Ondanks groter vryheid om die aard van godsdiensbeoefening in skole te bepaal, wys die beleid daarop dat sekere aspekte van godsdiensbeoefening soos spesiale bidtye, diëte of die dra van sekere kleredrag gerespekteer moet word.

Mnr. Kader Asmal, minister van onderwys, het gister gesê,“die stem van alle godsdiensorganisasies is gehoor.”

Hy meen dit is ‘n beleid waarmee die meeste Suid-Afrikaners tevrede sal wees.

Hy het gesê die beleid is ‘n “versigtig genuanseerde dokument en ‘n breë raamwerk waarbinne welwillende mense hul eie benaderings kan uitwerk.”

Godsdiensgroepe en politieke partye het hul steun vir die beleid uitgespreek ondanks enkele voorgestelde wysigings wat in die finale beleid gebly het.

Van dié voorstelle was dat leerders eers op hoërskoolvlak met godsdiensonderrig begin.

Volgens die beleid sal dit in graad R begin wanneer leerders simbole van hul eie geloof moet kan identifiseer.

Daarna sal hulle aan die verskillende gelowe in Suid-Afrika blootgestel word.

Volgens die beleid is godsdiensonderrig met opvoedkundige uitkomste die verantwoordelikheid van die skool.

Belydende of sektariese vorme van godsdiensleer word steeds as onvanpas in ‘n demokratiese en godsdiensdiverse samelewing beskou.

“Openbare skole moet dit vermy om ‘n spesifieke godsdiens of beperkte stel godsdienste te aanvaar wat sekere belange bevorder.”

Godsdiensleer mag volgens die beleid nie deel van die gewone skoolprogram wees nie, hoewel skole aangemoedig word om hul geriewe beskikbaar te stel vir sulke programme.

Volgens die beleid moet leerkragte spesiale opleiding in godsdiensonderrig kry. Die ontwikkeling van leerstof moet ook voorkeur kry.

(Bron: Die Burger , 10 September 2003)

  • Regte/verantwoordelikhede wat ter sprake is:Geval 4

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Lewensorientering graad 8. OpenStax CNX. Sep 12, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11047/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Lewensorientering graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask