<< Chapter < Page Chapter >> Page >

AFRIKAANS HUISTAAL

Graad 5

ARENDE VANG NIE VLIEË NIE

Module 12

INFORMATIEWE TEKSTE, SKRYFWERK EN SINSDELE

AKTIWITEIT 1

OM NA ‘N INFORMATIEWE TEKS TE LUISTER EN DIE INLIGTING OP GEPASTE MANIER TE GEBRUIK

[LU 1.5]

a) Kom ons lees oor nog ‘n arend. Luister en volg eers terwyl jou opvoeder die volgende teks aan julle voorlees.

Dokter Anton Rupert

Op 18 Januarie 2006 is dr. Anton Rupert rustig in sy slaap in sy huis op Stellenbosch oorlede. Hy was 89 jaar oud.

Wyle Anton Rupert was ‘n groot Suid-Afrikaner en entrepreneur – een van die grootstes wat ons land nog opgelewer het. Hy was nie net in Suid-Afrika bekend nie, maar eintlik dwarsoor die wêreld. Hy was nie net ‘n baie ryk sakeman nie, maar het ook op ander gebiede uitgestyg as ‘n leier. Ons onthou hom ook as bewaarder en beskermer van die kunste en van ons natuurlike omgewing.

Dr. Rupert is op 4 Oktober 1916 op Graaff-Reinet gebore. Hy het altyd gesê die Karoo leer ‘n mens om nederig te wees, veral as jy daar na die sterre kyk. Hy het daar skool gegaan en toe aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Hy wou eers ‘n mediese dokter word, maar kon nie die kursus bekostig nie en het toe maar ‘n graadkursus in die wetenskap geloop. Daar het hy ook vir Huberte Goote ontmoet – die vrou met wie hy 64 jaar lank getroud sou wees. (Mevrou Rupert is in 2005 oorlede, slegs ‘n paar maande voor dr. Rupert).

Hy het alreeds in 1957 ‘n aantal beginsels vir Afrikaanse besighede neergelê. Drie daarvan was die volgende:

EERLIKHEID – omdat eerlikheid altyd die langste duur.

DIENS – altyd: aan jou kliënt, jou medemens en jou volk.

GELOOF – dat alles goed sal gaan as elkeen sy plig doen.

As gevolg van sy suksesse in die sakewêreld het hy een van die rykste mense in die wêreld geword. Hy het die Rembrandt-tabakmaatskappy met slegs R20 begin en dit tot ‘n reusebesigheid uitgebou. Later het hy ook Rothmans International in Europa gevestig, en nog later ook Richemont gestig. Laasgenoemde is ‘n maatskappy wat ander maatskappye besit, soos Dunhill, Mont Blanc en Cartier, wat luukse goedere soos juwele verkoop. Sy Richemont-besigheid is ongeveer R128 miljard werd!

In die laaste jare van sy lewe het hy amper al sy tyd gewy aan sy ideaal om ‘n netwerk oorgrensparke tussen lande in Suider-Afrika te vestig. Dit moes toerisme bevorder en werk skep vir werklose mense. Daarom het hy in 1997 die Stigting vir Vredesparke saam met oudpresident Nelson Mandela en wyle prins Bernard van Nederland begin. Behalwe sy bewaringswerk in Suider-Afrika, het hy ook daarmee gehelp in Europa, Suid-Amerika en Suidoos-Asië. Verder het hy in die 1960’s gesorg dat gratis mediese dienste vir 25 jaar lank aan die mense van Lesotho gelewer word.

Baie van ons historiese geboue is deur sy toedoen gered, soos die vissershuisies van Kassiesbaai op Waenhuiskrans, die Van Wouw-huismuseum in Pretoria, die Reinethuis en die Drostdy-hotel op Graaff-Reinet, die wit huise in die middedorp van Stellenbosch, die Bo-Kaap-museum en talle, talle meer.

Hy en sy vrou was ook entoesiastiese versamelaars van kunswerke. Baie daarvan is te sien in die Rupert-museum op Stellenbosch.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10989/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask