<< Chapter < Page
  Ekonomiese en bestuurswetenskappe     Page 1 / 4
Chapter >> Page >

Ekonomiese en bestuurswetenskappe

Graad 8

Bestuurs-, verbruikers- en finansiële kennis en vaardighede

Module 13

Voltooiing van brondokumente

Aktiwiteit 1:

Om die soorte brondokumente vir boekstawing en hul gebruike op te noem

LU 3.3

By die boekstawing van rekeningkundige transaksies word gebruik gemaak van brondokumente. Hierdie dokumente verskaf die inligting wat benodig word om transaksies in die boeke aan te teken. Dit dien ook as bewys dat die transaksies plaasgevind het.

By kontanttransaksies word die volgende brondokumente gebruik:

  • Tjekboekteenblaaie by betaling deur middel van tjeks
  • Kwitansies by ontvangs van kontant
  • Kasregisterrol by kontantverkope
  • Kontantfakture by kontantaankope en kontantverkope
  • Bankdepositostrokies by deponering van kontant in ’n bankrekening

By krediettransaksies word die volgende brondokumente gebruik:

  • Kredietfakture by kredietaankope van bates en handelsvoorraad asook by kredietverkope van handelsvoorraad.

OPDRAG:

  • Versamel die volgende brondokumente:
  • Tjeks
  • Kwitansies
  • Fakture
  • Bankdepositostrokies
  • Plak die dokumente op A4-velle en dui aan vir watter tipe transaksie elke dokument gebruik word. Dui ook by elke soort dokument aan watter inligting op die betrokke dokument verskyn. Gebruik die voltooide opdrag vir jou portefeulje.

Aktiwiteit 2:

Om ’n depositostrokie as brondokument te kan gebruik

LU 3.3

Kry ’n blanko depositostrokie by enige bank en voltooi dit met betrekking tot die volgende inligting:

Mnr. P. Tredoux is die eienaar van PT Dienste geleë by Napierstraat 12, Paarl. Op 1 Junie 2002 deponeer hy geld in die onderneming se lopende bankrekening. Dié rekening se nommer is 123-456-789.

Die deposito is soos volg saamgestel:

3 x R50-note

Nikkel ter waarde van R75.

G. Louw het ’n tjek geteken vir R2 000. Louw het ’n tjekrekening by ANB Bank in Ceres.

AKTIWITEIT 3:

Om kontantontvangstes te boekstaaf

LU 3.3

Alle kontant wat in ’n onderneming ontvang word, word vir kontroledoeleindes in ’n joernaal aangeteken wat bekend staan as die kontantontvangstejoernaal (KOJ) .

Die volgende is tipes transaksies wat met die ontvangs van kontant gemoeid is:

1. Kontant wat die eienaar in die onderneming se bankrekening inbetaal as sy kapitaalbydrae

2. Kontantontvangste vir dienste gelewer

3. Huurinkomste wat ontvang word by die verhuring van ’n gebou of gedeelte daarvan.

Wanneer die eienaar kapitaal in die onderneming inbetaal, word ’n kwitansie aan hom uitgereik. Die afskrif van hierdie kwitansie word gebruik om ’n inskrywing in die KOJ te maak.

Die volgende inligting moet op die kwitansie verskaf word om ’n inskrywing in die KOJ te kan maak.

  • Datum
  • Kwitansienommer
  • Die eienaar se naam
  • Die bedrag wat hy inbetaal
  • Rede waarvoor die geld inbetaal word

Die afskrif van die bankdepositostrokie wat voltooi word om die kapitaalbedrag direk in die onderneming se lopende bankrekening in te betaal, kan ook as brondokument gebruik word.

  • Bestudeer die inskrywing in die KOJ (voorbeeld 1) wat aandui hoe so ’n transaksie geboekstaaf word.

Op 1 Januarie 2003 betaal die eienaar J. Jolie R50 000 as kapitaalbydrae in ’n onderneming, met die naam Salon Jolie, se bankrekening. (sien voorbeeld 1)

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11039/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask