<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Hulle is entrepreneurs van formaat: vindingryk, nie bang vir nuwe uitdagings of omstandighede nie en fyn beplanners wat weet wat hulle wil en doelgerig daarna werk. Jong sakelui van die jaar, moenie glo nie. Op ‘n glansgeleentheid gaan jy dié groep sakelui egter nie sommer kry nie. Hulle verkoop eintlik dwelms.

Die polisie verwys politiek korrek en beskrywend genoeg na hulle as “die Wes-Afrikane wat wel by die dwelmhandel betrokke is”. Navorsers en mededingers is meer op die man af en sê dis die Nigeriërs. Op straat is hulle sommer net “die Nigerians”.

Skewe lof kom van mense soos Peter Gastrow van die Instituut vir Sekerheidstudie in Kaapstad wat ruiterlik erken dat die groepe se vaardighede en veral beplanningsvermoë hulle in ‘n eie klas misdadigers plaas.

In ‘n verslag van die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelmbeheer en Misdaadvoorkoming word die groep ook telkemale op die naam genoem. Luidens die verslag beheer Nigeriërs nie net die kokaïen- en heroïenmarkte in Suid-Afrika nie, maar het hulle die markte in groot mate geskep.

Supt. Riaan Redelinghuys van die narkotikaburo in Kaapstad gee die navorsers gelyk. In een van die mees onlangse voorbeelde van markskepping waarmee hy te doen gekry het, is ‘n hoërskoolseun van Brackenfell in ‘n inkopiesentrum deur ‘n “Wes-Afrikaan” genader.

Die man het aan hom ‘n selfoon en 15 Ecstasy-tablette gegee. Vir die tiener was die versoeking om grootmeneer tussen sy maats te speel, net te groot en hy het dit gevat. Die volgende week het die filantroop hom op sy selfoon gebel en gesê hy het weer vir hom “iets”, maar dié keer kan hy sommer geld maak ook.

Hy het aan die tiener weer E’s en ook ‘n bietjie kokaïen gegee. Dié keer moes hy dit onder sy maats verkoop en kon hy dan ‘n deel van die wins vir homself hou. Binne ‘n week het die handelaar dus ‘n nuwe mark geskep.

Pa’s en ma’s van tieners in die Kaapse Skiereiland is ernstig gewaarsku teen die gevare wat die gebruik van dwelms vir jong mense inhou. Dit kom nadat die grootste besending LSD onlangs deur die polisie se narkotikaburo gevind is. Altesaam 2 000 Ecstacy-tablette, asook 844 vierkantjies (“caps”) LSD en meer as 300 kg kokaïen is deur die polisie in die Bo-Kaap onderskep. Ecstasy is ‘n dwelmmiddel wat soms op waaiers of in lugversorgers by nagklubs gestrooi word.

‘n Nuwe militêre bewind in die tagtigerjare in Nigerië en die feit dat dwelmbase daar strenger vasgevat is, het die Nigeriërs na Afrika laat uitwyk. Ook Suid-Afrika is geteiken en vandag is Durban een van die groot markte vir crack, heroïen en kokaïen en sommer ook ‘n stad waar baie Nigeriërs hul gevestig het. Handelaars verskaf aanvanklik kosteloos dwelmmiddels, m.a.w. hul sorg dat die kraantjie aanvanklik oop bly totdat ‘n mark geskep is, baie mense verslaaf is en dan as die gewoonte gevestig is, word die skroewe skerp aangedraai en moet baie duur vir dwelms betaal word. Dit word later so duur dat verslaafdes moet roof en selfs moord pleeg om dit te kan bekostig.

80% van die kokaïen waarop in Afrika beslag gelê word, word in Suid-Afrika gevind. Die Goudstad was eers die mekka van dwelmhandelaars, maar nou is Kaapstad die teiken. Tien jaar gelede was kokaïen ‘n betreklik “rykmansdwelm” en heroïen onbekend. Nou lyk die prentjie anders, want kokaïen is nou naas dagga en Mandrax, die gewildste dwelm in Kaapstad en die voorkoms daarvan die hoogste in die Moederstad. Altesame 56% van alle aangehoudenes in Kaapstad wat vrywillig getoets is, het spore van minstens een dwelm in hul liggaam gehad, teenoor 50% in Durban en 29% in Gauteng. In Mitchells Plain en Seepunt was die syfer onderskeidelik 64% en 65%.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 6. OpenStax CNX. Sep 07, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10995/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 6' conversation and receive update notifications?

Ask