<< Chapter < Page Chapter >> Page >

GRASVELDBIOOM (gematigde grasveld)

  • Die gematigde grasveld kom in ‘n streek voor wat in ‘n mate ‘n oorgang tussen die warm en koue dele van die aarde vorm. Dit kom gewoonlik in die binneland van vastelande voor en word ‘n kontinentale klimaat genoem. Dit is dus ‘n koel, gematigde klimaat met winters wat koel tot koud is, en warm somers. Die neerslag wissel van 300 – 500 mm per jaar.
  • Die gematigde grasvelde word oor groot dele van die aarde gevind en staan in verskillende areas onder ander name bekend:

Noord- Amerika – die Prêries

Asië en Europa – die Steppe

Suid-Amerika – die Pampas

Australië – die Downlands

Suid-Afrika – die Veld

  • In RSA word die Transvaalse Hoëveld hierdeur gekenmerk.
  • Die bome is gevoelig vir ryp, daarom is hulle meestal tot die rivierlope beperk. Uitheemse boomsoorte soos bloekoms en denne wat later deur die mens aangeplant is, groei goed hier. In Suid-Afrika is die meerjarige rooigras die belangrikste plantegroeitipe.
  • Groot dele van die bioom is deur die tussenkoms van die mens verander. Groot gedeeltes is omgeploeg om koring en mielies aan te plant of word vir weiveld gebruik. Oorbeweiding lei tot agteruitgang van die grond en erosie tree in. Ook van die oorspronklike dierelewe het amper niks oorgebly nie. In Suid-Afrika is groot dele deur mynbou-aktiwiteite en die gevolglike stedelike ontwikkeling vernietig.

WOESTYNBIOOM

  • Halfwoestyn en veral woestyne van die wêreld is gebiede waar daar ‘n groot tekort aan water is omdat die reënval besonder laag is. Die jaargemiddelde neerslag is gewoonlik minder as 250 mm en in sommige jare word daar selfs geen reënval geregistreer nie. Die somerdagtemperature is hoog, maar as gevolg van die lae vogtigheid in die lug is dit draagliker as in die tropiese reënwoude. Die nagte is koud as gevolg van die vinnige afkoeling.
  • Tipiese klimaateienskappe van halfwoestyn en woestynomgewings:
  1. Jaarlikse reënval is laag (minder as 250 mm per jaar).
  2. Neerslag is onbetroubaar (wissel van jaar tot jaar).
  3. Vogtigheid is laag.
  4. Verdamping hoog.
  5. Hoë temperatuurskommelings daagliks.
  • Die ware woestyne kom op die vyf vastelande voor:

Namib Suidelike Afrika/Namibië

Sahara Noord-Afrika

Thar Pakistan/Indië

Rhoeb-al-Chali Saoedi Arabië

Taklimakan China

Alacama Suid-Amerika (Chili/Peru)

Mojave Noord-Amerika

  • Hier is die plantegroei óf baie skaars óf heeltemal afwesig.
  • Die meeste van die plante wat wel hier aangetref word, is jaarplante wat hulle hele lewensloop van ontkieming, groei, blom, saadvorming en verwelking binne ‘n paar maande voltooi. Dink aan Namakwaland as dit gereën het!
  • Die halfwoestyndele se plantegroei is van so ‘n aard dat dit vir weiding gebruik kan word. Die plante is goed aangepas by die droë toestande en word xerofiete genoem. Hulle het byvoorbeeld haartjies of was op hulle blare om verdamping teë te werk. Party het weer die vermoë om water in hul weefsel op te gaar, soos vygies, en word sukkulente ( vetplante ) genoem.
  • Halfwoestyne kom oor groot dele van die wêreld voor en beslaan saam met woestyne ongeveer ⅓ van die aardoppervlak. Halfwoestyne vorm die randgebiede van die egte woestyne. In Suidelike-Afrika is die Karoo en Kalahari voorbeelde hiervan.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Aardrykskunde graad 6. OpenStax CNX. Sep 07, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10999/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Aardrykskunde graad 6' conversation and receive update notifications?

Ask