<< Chapter < Page Chapter >> Page >

"Nie van óns wêreld af nie," sê hy. En toe vertel hy ons een van die seldsame dinge wat hy ooit van Venus vermeld het. "Ons het 'n steiler opdraande pad gehad om te klim as julle, Kerneels. Venus is met ewige wolke bedek. Uit die gedrag van 'n slinger en van hoogvallende voorwerpe het ons sy eie beweging afgelei. Totdat ons sterrewagte gebou het wat bokant die wolke uitsteek. Ook óns beskawing het swaar en stadig gekom, Kerneels."

"Loeloeraai," sê Vroutjie, "wanneer sal ons die aarde weer kan sien? Of hou ons in sy skaduwee aan tot by die maan?"

"A nee, a!" val Engela in. "Ons kan nie so aanhou nie. Ons moet uitdraai en ry langes die skaduweestreep."

Loeloeraai glimlag. "Ons sal om 'n ander rede uitdraai - ons ry nóú skuins om daaruit te kom. Toe ons van die aarde af weg is, was dit laaste kwartier. Ons moet die teenoorgestelde koers vat sodat ons die baan van die maan kry waar hy sal wees as ons daar aankom. Jy weet, Engela, as ons hom agterna moet ry vang ons hom nie, selfs met hierdie snelheid nie. Hy loop om 'n sirkel waarvan die aarde naasteby die senter is en die straal gemiddeld tweehonderd-en-veertigduisend myl, in iets oor die 27 dae. Dus moet sy snelheid 'n klein bietjie meer wees as ons s'n van duisend myl in die uur."

"En hoe lank sal dit ons neem om uit die skaduwee uit te kom?"

"'n Paar uur," sê Loeloeraai. "Die skaduwee het natuurlik die deursnee van die aarde - naby die agtduisend myl. Maar ons was nie in die middel daarvan nie want ons is nie middernag daar weg nie. Ek gee aan die hand dat ons nou 'n stukkie eet en dan 'n bietjie slaap - ek dink julle het dit nodig ná die opwinding. En dan beloof ek julle 'n mooi gesig."

"Hoe laat is dit, Ouman?" vra Vroutjie.

"Half-elf. Maar nou laat jy my dink - ek moenie my plig versuim nie. Ons vriende sal nuuskierig wees wat van ons geword het."

Loeloeraai maak 'n dekseltjie oop in die vloer en hy gee my 'n telefoontoestelletjie aan.

"Hello!" sê ek. "Hello! Is dit 'Die Burger' daar?"

"Ja. Maar ons is besig. Kan jy nie so vriendelik wees om ons môre op te lui nie?"

"Waarmee is julle dan so besig?"

"Waar praat jy vandaan? Van Robbeneiland? Is jy die enigste man wat nie weet van die klompie wat maan toe vertrek het nie? Hier is 'n verslag van twaalf kolomme van Oudtshoorn en daar is nog ses spesiale artikels wat moet klaar kom. Ons gaan môre al die ander koerante uitklop."

"Ek gee dan nie om om te wag tot môre toe nie," sê ek. "Sê solank groetnis vir die staf."

"Nou ja, dankie. Maar wie is dit wat praat en waarvandaan?"

"Langenhoven, uit die interplanetêre ruimte."

"Magtig man - wag, wag, moenie afsluit nie. Natuurlik is dit jy. Ek het nie eens opgelet dat dit die spesiale instrumentjie is wat gelui het nie."

"Nee," sê ek. "Wag jy nou. Wie praat daardie kant? Dit gaan nie na Dawie nie."

"Ek is van Donnerhellings hier," sê hy.

"Aikonna," sê ek. "Ek het genoeg sonde met jou op die aarde gehad. Roep die hoofredakteur en 'n betroubare snelskrywer as daar ooit ergens so 'n ding te kry is."

Uit: C.J. Langenhoven: Loeloeraai, Nasionale Pers, 1923.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask