<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Sosiale wetenskappe: geskiedenis

Graad 8

Die minerale rewolusie en verbandhoudende oorloë in sa

Module 10

Weerstand teen die britse beheer

Weerstand teen die Britse Beheer
Die Vroegste VakuniesDie regering het reeds voor 1910 met ‘n segregasiebeleid begin. In 1912 is die SANNC, die South African National Native Congress gestig; wat in 1914 ‘n afvaardiging na Brittanje gestuur het om beswaar te maak teen die Wet op Naturellegrond van 1913. Hierdie wet het bepaal dat swart mense nie landbougrond buite afgebakende gebiede, toe bekend as tuislande of reservate, kon bekom nie. In 1923 het die SANNC sy naam verander na die ANC, die African National Congress. Die NP (Nasionale Party) en die ANC het elkeen ‘n afvaardiging na Versailles in Frank­ryk gestuur om met die Britte te onderhandel vir groter selfbeskikking. Hertzog (NP) en Sol Plaatje (ANC) het wel daarin geslaag om met die Britse eerste minister, Lloyd George, te praat, maar mnr. George het verklaar dat Brittanje nie in Suid-Afrika se binnelandse beleid wou inmeng nie. Die Indiërs was ontevrede oor bv. belastings soos die 3 pond-hoofbelasting wat hulle aan die Britse bewindhebbers moes betaal. Generaal Smuts van die SAP, (Suid-Afrikaanse Party ) die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, het met Gandi, die leier van die Indiërs in SA onderhandel. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog (1914 - 1919) was die grootste gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking dus ontevre­de met die Britse beheer.Die ICU (Industrial and Commercial Workers’ Union) is aanvanklik in 1919 as ‘n vakbond vir dokwerkers onder leiding van Clement Kadalie gestig. Teen 1927 het die ICU takke landwyd gehad wat ook landelike gebiede ingesluit het. Dit was die grootste vakbond en dit het later militant geraak . Die spoorweg­staking van Junie 1927 is deur die ICU gereël. Die Zoeloe-rebellie teen die Britse bewindhebbers is reeds genoem. (Sien Leesstuk 3, die Anglo-Zoeloe-oorlog.) Voorheen is daar van die Anglo-Boereoorlog gepraat, waarin Anglo na die Britte; en Boere na die Suid-Afrikaners verwys. Hierdie oorlog het egter meer Suid-Afrikaners as net boere betrek, daarom die breër term.

Aktiwiteit 1

TREK ‘n TYDLYN om die ICU se lewensloop te verduidelik:

[LU 2.1, 2.2, 2.3]

Aktiwiteit 2: weerstand

Jy behoort nou reeds ‘n goeie idee te hê van die woord “weerstand”. Soek enige artikel, verkieslik uit julle plaaslike koerant, maar ook uit enige ander bron, wat oor weerstand handel. Woorde wat jou in jou soektog kan help is: toyi-toyi, petisie, boikot, optog, staking, ens.

  • Indien jy nie in jou plaaslike koerant ‘n artikel vind nie, probeer tydskrifte en ook die internet. Die woord “resistance” behoort jou te help om op die internet, op jou soek- enjin iets te vind.

PLAK jou artikel hier. Indien jy nog meer bronne kry, kram dit ook hier vas. Vra gerus Ma en Pa of ‘n vriendelike familielid se hulp.

OPSOMMING: Skryf hier neer waaroor die artikel handel .

[LU 1.4, 3.4, 3.5, 3.6]

LEESSTUK 2

Die SA Oorlog : wie was betrokke en hoe het dit hul lewens beïnvloed?
Na die mislukking van die Jameson-inval, was president Kruger van die ZAR vasbeslote om die Uitlanders uit die bestuur van die regering te hou. In 1897 is Milner as die nuwe hoë kommissaris aangestel. Dit was sy ideaal om die Transvaal te koloni-seer. Alle samesprekings oor die eise van die Uitlanders oor stemreg, sitting op die Volksraad ens. tussen Kruger en Milner het misluk. Die oorlog het amptelik op 11 Oktober 1899 begin. Die eerste fase van die oorlog was ‘n tydperk van militêre suksesse vir die Suid-Afrikaners. Genl. Piet Cron­je het Mafikeng en Kimberley sukses­vol beleër. Die kommando’s van die OVS onder Schoeman en Grobler, het die Kaapkolonie binnegeval en Britse magte onder genls. Gatacre en French by Stormberg verslaan.Generaal Piet Joubert het die Britse leër onder genl. White in Ladysmith, Natal, vasgekeer en genl. Sir Redvers Buller in gevegte by Colenso, Taban­yama, Spioenkop en Vaalkrans ver­slaan. Op hierdie stadium was die Britse magte totaal verslaan, maar die Suid-Afrikaners het nie hierdie suksesse opgevolg nie.In alle stadiums van die oorlog was die meeste manskappe op kommando. Uit Transvaal en die Oranje-Vrystaat, het ongeveer 64 000 manskappe gekom. Oral uit die Britse Ryk het Brittanje nou soldate as versterkings vir die tweede fase van die oorlog gestuur. Ongeveer 250 000 Britse soldate, met beter wapentuig as die Suid-Afrikaners, was verseker op ‘n vinnige oorwinning. Lord Roberts, met Kitchener as tweede in bevel het stap vir stap die Suid-Afrikaanse teenstand uitgewis. Die oorgawe van genl. Piet Cronje en sy 4 000 manskappe by Kimberley was ‘n gevoelige slag vir die Suid-Afrika­ners, want die pad na die noorde was nou oop vir die Britte. In Natal het Buller deurgebreek by Colenso en Ladysmith ontset. Lord Roberts het in Maart 1900 Bloemfontein oorwin en daarna in Mei Johannesburg en in Junie Pretoria. Hy proklameer die Oranje-Vrystaat en die Transvaal Britse kolonies.President Paul Kruger vertrek per skip om hulp vir die Suid-Afrikaners in Europa te gaan soek. Die derde fase van die oorlog breek aan. Die Suid-Afrikaners verdeel in kleiner kom­mando’s om hul meer beweeglik te maak. Hierdie guerilla-vegters se teiken was Britse konvooie, kom­mu­ni­kasielyne en voorrade. Die Britte het blokhuise gebou om spoorlyne en brûe te beskerm. Die Suid-Afrikaners het kos, voorrade en skuiling ontvang op die plase. Kitchener het toe sy Verskroeide Aarde-beleid om plaashuise en oeste te verbrand, van stapel gestuur. Duisende vroue en kinders is na konsentrasiekampe gestuur. Emily Hobhouse het be­kendheid verwerf vir haar pogings om die haglike toestande waaronder die vroue en kinders in die konsen­tra­siekampe geleef het, te verlig. Duisen­de oorlogsgevangenes is na Bermuda, Ceylon (nou Sri Lanka) en St. Helena gestuur. Suid-Afrikaners het begin om oor te loop na die Britse magte. Kruger kon geen ondersteuning in Europa vir die Suid-Afrikaners kry nie. Die meerderheid Suid-Afrikaanse leiers wou vrede maak. Uitein­delik is die Vrede van Vereeniging in Pretoria op 31 Mei 1902 onderteken.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Geskiedenis graad 8. OpenStax CNX. Sep 12, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11043/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Geskiedenis graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask