<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Teks e

’n Fragment uit “ Tot lof van ons hande ” – Chris Barnard

JY MAAK ‘N STOEL

Om mee te begin, is die keuse van hout nogal belangrik. In­heemse dennehout is te sag en kleurloos om ’n uitdaging te wees. Stink­hout is te duur vir ’n arm skryn­werker. Kiaat is dus my keuse. Moeilik om mee te werk, ja: die grein is geneig om plek-plek lelik te verander, maar as jy dit versigtig en met die nodige geduld en respek han­teer, is jou loon soveel groter.

As jy nou klaar besluit het oor die afmetings van jou stoel, mnr. Retief, begin jy die hout in die gewenste diktes en lengtes saag. ’n Skerp saag is ’n voor­vereiste. Enige regdenken­de mens werk eerder in ’n kantoor voordat hy met ’n stomp saag aan ’n ordentlike stuk kiaat begin saag.

Nadat jy ’n rukkie gesaag het, begin jy jou kiaat ruik – warm en duur en ryk soos net kiaat kan. Jy saag ritmies en sonder om te forseer, al op die merklyn langs, vorentoe en terug, voren­toe en terug, terwyl die soet­bruin saagsels inreën na jou toe, en wegreën, en inreën na jou toe, en weg.

Klaar gesaag, elke balkie, elke poot, elke sportjie na sy maat, begin die skaafwerk. Dis byna onnodig om te sê: daardie skaaf­lem moet insgelyks skerp wees. ’n Stomp skaaf, soos ’n stomp saag, is ’n skrynwerker se ondergang.

Jy skil die vlamrooi hout in papierdun stroke af. Die skaaf­sels peul om jou hande uit – met elke leunslag vorentoe nog ’n soet kiaatlok wat uitkrul uit jou regterhand en afval na jou voete toe – totdat jy enkeldiep daarin staan en die balkie glad en vier­kantig in jou hande lê.

Jy hou dit vas, jy ruik daaraan, en saam met die geur van die hout ruik jy soveel ander geure: van vroeër hout, van ou lym, van olie en politoer. Jy ruik tot jy vol is daarvan, vol van die geure wat net ’n houtwerk­kamer kan hê, mnr. Retief.

Dan begin jy weer van voor af meet, beplan en pas, meet, tot elke tap akkuraat geteken is, en jou beitel – jou vlymskerp beitel – presies weet wáár hy moet inbyt in die grein. En klaar getap, kook jy jou lym en smeer in en voeg; klamp die stoel stuk vir stuk vas.

Ná ’n dag of twee kan jy gaan losskroef, afskuur, en die olie loop uithaal – oplaas, salig, die lappie in die olie doop en die rooibruin hout begin insmeer, en kyk hoe die vlamme opstaan uit die hout, en gloei.

Dan, uiteindelik, is die stoel klaar. En joue. Jou eie. En meer nog: jou eie handewerk. En wanneer jy die eerste keer daarop gaan sit, onthou jy elke afsonderlike stuk hout – hoe dit aanvanklik gelyk het, hoe dit nou lyk; en jy onthou elke tap, hoe elkeen gepas het, met watter een jy die meeste gesukkel het, watter een sommer dadelik gepas het. Jy ken daardie stoel soos jy net jou eie hart ken. En die stoel weet dit.

Uit: Chriskras , Tafelberg 1972.

LU 3.1

Aktiwiteit 6

Om te verduidelik hoe die hoofkenmerke en struktuur van verskillende tekssoorte tot die funksie daarvan bydra

  • Vergelyk die twee gedigte.

1. Noem drie opvallende verskille tussen die twee gedigte.

2. Skryf kortliks in jou eie woorde hoe die hoofkenmerke en struktuur van elke gedig by die inhoud daarvan aanpas. Dis nie so moeilik soos dit lyk nie – kyk na wat jy in a) gesê het en bou daarop.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11037/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask