<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Ekonomiese en bestuurswetenskappe

Graad 6

Die sakeplan

Module 9

Hoe gaan die besigheid bedryf word?

  • Hoe gaan die besigheid bedryf word?

Duisende mense koop en verkoop produkte en dienste, maar almal se besighede word nie op dieselfde manier bedryf nie. Party verkoop vanuit ‘n mobiele eenheid (roomysman), ander verkoop vanuit ‘n stalletjie langs die straat, of selfs op die sypaadjie, terwyl sommiges hul besighede vanuit hul eie huise bedryf.

  • Waar gaan die besigheid bedryf word?

Dit is baie belangrik om die regte ligging vir ‘n besigheid te vind. Baie entrepreneurs se konsepte misluk uit die staanspoor, bloot omdat hulle op die verkeerde ligging besluit het. ‘n Onderneming moet so na as moontlik aan die kliënte geleë wees, maar terselfdertyd moet die huur van die perseel nie te hoog wees nie.

Beantwoord die volgende vrae nadat op die ligging van die besigheid besluit is:

  • Wat gaan die adres van die besigheid wees?
  • Is dit seker dat die plaaslike owerheid/inwoners sal toelaat dat die besigheid daar bedryf word?
  • Waarom is daar op die betrokke ligging besluit?
  • Hoe gaan die produk gestoor word?

Dit sal afhang van die aard van die produk. Is dit bederfbaar of nie? Is dit groot/klein? ‘n Stoor mag dalk benodig word. Dit is ook die moeite werd om te kyk of dit nie beter is om die produk direk aan die kliënt te lewer nie, eerder as om dit te stoor.

Diens kan egter nie gestoor word nie. Wanneer ‘n diens aan die kliënt gelewer word, word tyd gelewer en moet dit so aantreklik as moontlik gemaak word. Wanneer daardie tyd eers verby is, kan dit nie weer teruggekoop word nie. Daar moet daarna gestreef word om in elke moontlike tydgleuf besig te wees en sodoende inkomste te genereer. Daarom moet daar op spesiale aanbiedings gekonsentreer word gedurende die stil seisoen van die jaar.

So kan die prys van ‘n motorwas byvoorbeeld laer wees in die reënseisoen, omdat voertuie meer gereeld vuil word en motoreienaars dalk hul motors meer gereeld laat was.

Probeer deur ondervinding bepaal watter tyd van die jaar die stil seisoen is en dan aanpassings te maak aan die diens wat gelewer word of aan die prys van die produk.

  • Hoe gaan die diens/produk aan die kliënt versprei word?

Wat sal dit verg om die produk vanaf die vervaardigingspunt/aankope tot by die kliënt te vervoer? Sal voertuie en ekstra personeel benodig word? Onthou, die produk moet in ‘n goeie toestand by die kliënt aankom. Daarom is spoed belangrik. Dit moet beter en vinniger as die mededinger gedoen word.

As daar byvoorbeeld besluit word om spesiale vetkoeke met maalvleisvulsels aan skoliere te verkoop, gaan dit tog nie by die skool voorberei word nie. Die pousetye sal vasgestel moet word en die vervaardigingskedule so opgestel word dat die vetkoeke vars en warm by die onderskeie skole aangebied word.

In Suid Afrika veral, waar dienslewering dikwels baie swak is, is die spoed en betroubaarheid van die diens een van die faktore wat die deurslag kan gee in die sukses van jou besigheid.

  • Hoe gaan die na-verkoopdiens gelewer word?

Gaan ‘n diens aan die kliënt nà die verkoop van ‘n diens / produk gebied word en waar gaan hierdie diens gelewer word? Word die kliënt se huis besoek of word die diens vanuit die besigheid bedryf? Indien enige beloftes gemaak is of waarborge aan die kliënt gegee is, moet daarby gehou word.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 6. OpenStax CNX. Sep 08, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11012/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 6' conversation and receive update notifications?

Ask