<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Lewensoriëntering

Graad 4

Gesondheid!

Module 4

Gesondheidsregte en -verantwoordelikhede

Gesondheidsregte waarop kinders kan aanspraak maak en die verantwoordelikheid wat dit meebring

In Suid-Afrika maak ons gebruik van ‘n manifes van menseregte. ( Manifes is die deftige woord vir ‘n lys reëls wat die mense van ‘n land beskerm sodat almal regverdig behandel word.)

Op bladsy 3 is ‘n lys van regte waarop leerders mag aanspraak maak. ‘n Baie belangrike aspek van hierdie reëls is dat dit ook van die leerder sekere verantwoordelikhede verwag. Leerders moet ook die regte van ander leerders, hulle opvoeders en ouers eerbiedig.

Aktiwiteit 1

Om ‘n plakkaat vir kinderregte te maak [lu 1.3]

Julle opvoeder sal die klas in vier groepe verdeel. Twee groepe maak ‘n plakkaat met die twaalf regte van leerders en twee groepe maak plakkate met die pligte van leerders. Dit is belangrik dat julle sal besef dat daar aan elke reg ook ‘n plig gekoppel is. Julle plakkate moet van so ‘n standaard wees dat dit permanent in die klaskamer uitgestal kan word as deel van versieringsleermateriaal en later weer gebruik kan word. Die lys op bladsy 3 bevat gevorderde begrippe wat deur julle opvoeder verduidelik sal word. Dit is baie belangrik dat julle die taal en die inhoud daarvan verstaan sonder dat dit verder vereenvoudig hoef te word op julle plakkate.

( a ) Regte van leerders

1. Om opgevoed te word en om geestelik en fisies te ontwikkel.

2. Om deur volwassenes versorg en gelei te word.

3. Om regverdig en met respek behandel te word.

4. Om toegang te hê tot inligting.

5. Om die geleentheid te hê om ‘n bydrae te lewer tot die gemeenskap.

6. Om binne ‘n veilige omgewing te wees waarbinne leer bevorder word.

7. Om teen jou eie pas te ontwikkel.

8. Om na die hoogste standaarde te mik.

9. Om as ‘n individu behandel te word.

10. Om deur opgeleide opvoeders onderrig te word.

11. Om onderrig te ontvang en te mag praat in die taal van jou keuse.

12. Om toegelaat te word om jou kultuur en geloofsoortuigings uit te leef.

( b ) Pligte van leerders:

1. Om te luister, te leer en bereid te wees om opgevoed te word.

2. Om grootmense te respekteer en te ondersteun.

3. Om ander met waardigheid en respek te behandel en ingestel te wees om hulle regte te beskerm.

4. Om ander toe te laat en te help om te kan kommunikeer.

5. Om saam met ander onderrig te word en hulle ook help om te leer.

6. Om met ander saam te werk en ‘n veilige omgewing te verseker.

7. Om verskille in ander mense waar te neem, toe te laat en te respekteer.

8. Om toegang tot inligting te hê en fluks te werk.

9. Om ‘n ander persoon as individu te respekteer.

10. Om bereid te wees om opgevoed te word, saam te werk en met konsentrasie te luister.

11. Om te leer om ander se taalverskille te aanvaar.

12. Om bereid te wees om ander se kultuur en geloofsoortuigings te aanvaar, te respekteer en te help beskerm.

Aktiwiteit 2

Om ‘n briefie oor die leerder se regte te skryf [lu 1.3]

Regte en pligte 1, 2 en 6 het spesifiek met jou gesondheid en veiligheid te make. Die opvoeder sal die inhoud van hierdie drie regte en pligte aan julle verduidelik. Jy moet dan vir jou opvoeder ‘n briefie skryf (‘n paar sinne) waarin jy vra om hierdie drie regte vir jou toe te laat en waarin jy dan onderneem om jou pligte teenoor jou opvoeder en klasmaats na te kom. Hier volg ‘n voorbeeld:

Liewe Juffrou Pienaar

Sal Juffrou asseblief elke dag vir my ietsie nuuts kom vertel sodat ek kan slim word? Sal Juffrou asseblief ‘n voorbeeld vir my stel hoe om vriendelik en verdraagsaam teenoor ander te wees? Ek sal baie bly wees as ek binne die klaskamer veilig en beskerm kan voel.

Ek sal elke dag probeer om te luister wat Juffrou vir my sê, om hoflik te wees teenoor Juffrou en vriendelik te wees met my maats. Ek sal nie goed skool toe bring wat ander mense onveilig en bedreig laat voel nie.

Lekker skoolhou!

Veronica

My brief

Assessering

LEERUITKOMS 1: GESONDHEIDSBEVORDERING

Die leerder is in staat om ingeligte besluite oor persoonlike, gemeenskaps-en omgewingsgesondheid te neem.

Assesseringstandaard

Dis duidelik wanneer die leerder

1. 3 kinders se regte en verantwoordelikhede verduidelik ten opsigte van gesondheid, en maniere voorstel om dit in ‘n bekende situasie toe te pas;

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Lewensorientering graad 4. OpenStax CNX. Sep 18, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11095/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Lewensorientering graad 4' conversation and receive update notifications?

Ask