<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Ekonomiese en bestuurswetenskappe

Graad 7

Suksesvolle sakebestuur

Module 5

Menslike hulpbronbestuur

A. Die bestuur van werknemers

1. Die pligte van die bestuurder

Bo en behalwe sy ander bestuurstake, is die bestuurder van ‘n onderneming veral verantwoordelik om die mense wat onder hom werk, op twee maniere te benut:

  • Hy moet sy ondergeskiktes so behandel dat hulle nie rede vir klagte of ontevredenheid het nie.
  • Hy moet sy ondergeskiktes so motiveer dat hul vermoë ten volle benut word.

‘n Bestuurder moet weet wat op die laer vlakke van die onderneming aangaan . Hy moet tyd maak om met sy werknemers te praat. Dit word ook rondloopbestuur genoem.

2. Die verwagtings van die werknemer

Die suksesvolle bestuurder moet ook weet wat die verwagtinge van sy personeel is, en hy moet aktiewe stappe neem om aan daardie verwagtinge te voldoen

Wat is daardie verwagtinge?

Goeie behandeling

  • Elke werker wil onder gunstige omstandighede werk.
  • Elke werker wil ‘n aangename verhouding met sy baas hê.
  • Elke werker wil regverdig behandel word.

Motivering

  • Werknemers het vyf basiese verwagtinge wat hulle sal motiveer om hul beste te lewer:
  • “Kom met my ooreen watter resultate ek moet behaal.” (Doelwitstelling)
  • “Gee my geleentheid om myself te bewys.” (Deelname en delegering)
  • “Laat weet my hoe ek vaar – goed of sleg.” (Bestuurskontrole)
  • “Help my wanneer ek hulp nodig het, of wanneer ek swak vaar.” (Hantering van ‘n onderpresteerder)
  • “Gee my erkenning vir my bydrae deur my dienooreenkomstiglik te beloon (Belonings wat motiveer)

B. Maniere wat die bestuurder kan toepas om sy werknemers te motiveer

  1. Doelwitstelling

Wanneer die bestuurder sekere doelwitte aan ‘n werknemer stel wat hy moet bereik, is dit ‘n ooreenkoms tussen die bestuurder en sy ondergeskikte.

Die werknemer kan verwag dat die doelwitte realisties moet wees, met ander woorde dit moet haalbaar wees.

Die bestuurder sal die doelwitte as ‘n uitdaging aan die werknemer voorhou.

  1. Deelname en delegering

‘n Werknemer wil homself graag bewys. Hy verwelkom hulp en ondersteuning terwyl hy nog leer, maar daarna wil hy die geleentheid hê om homself te bewys. Dit kan op twee maniere geskied:

  • Deelname aan besluitneming

Een manier om werknemers geleentheid te gee om hulleself te bewys, is om hulle te betrek by die besluitnemingsproses, d.w.s. om hulle te raadpleeg, om hulle om oplossings te vra, om hulle in te sluit by probleemoplossingsbesprekings.

  • Delegering van verantwoordelikheid

‘n Ander manier waarop ‘n bestuurder ‘n ondergeskikte geleentheid kan gee om homself te bewys, is om verantwoordelikheid aan hom te delegeer. Delegering van verantwoordelikheid is om vir ‘n ondergeskikte die gesag te gee om sy eie oordeel te gebruik.

  1. Bestuurskontrole

Die derde verwagting van ‘n werknemer is dat hy sal ingelig word oor hoe hy vaar – of dit goed of sleg is. Om dit te kan doen moet die bestuurder doeltreffende bestuurskontrole uitvoer.

Die doel van bestuurskontrole is om te bevestig dat die werk van ‘n ondergeskikte aan die vereiste standaard voldoen. Daar moet ook rekord gehou word van die prestasie van individuele ondergeskiktes.

  1. Hantering van ‘n onderpresteerder

Die bestuurder is daar om die ondergeskikte te help, nie om hom te veroordeel nie. Moenie sy tekortkominge uitwys of impliseer dat die swak prestasie sy skuld is nie. Probeer ‘n oplossing vind, nie fout nie; val die probleem aan, nie die persoon nie. As die ondergeskikte verbeter, moet die verbetering met positiewe terugvoer versterk en nuwe mikpunte gestel word.

  1. Belonings wat motiveer

Die laaste verwagting wat ondergeskiktes van hul bestuurders het, maar nie die minste nie, is om beloon te word vir hul bydrae.

Erkenning is ál wat ‘n beloning die moeite werd maak. Dit is nie soseer die aard of die grootte van die beloning wat saak maak nie, maar dat dit gegee word uit erkenning vir goeie prestasie.

Belonings speel ‘n baie belangrike rol om werknemers tot hoer vlakke van prestasie te motiveer as dit gebruik word om prestasie te erken. Bestuurders wat die belonings tot hul beskikking verwaarloos, verwaarloos magtige instrumente – tot hul eie nadeel.

Hierdie inligting is verwerk uit: Moll, A. (1990). Help! Ek is ‘n bestuurder . Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Memorandum

Menslike Hulpbronbestuur

  • Die bestuur van werknemers word bespreek deur te verwys na die pligte van die bestuurder en die verwagtings van werknemers.
  • Daar word verwys na maniere wat die bestuurder kan toepas om sy werknemers te motiveer.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11024/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask