<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Aardrykskunde

Graad 5

Fisiese struktuur van suid-afrika

Module 10

Verandering van die landskap

Die landskap soos wat ons dit sien met valleie, heuwels, mere, damme, ens., verander voortdurend. Die verandering word óf deur die mens veroorsaak, óf deur natuurlike kragte.

R iviere

  • In die reënseisoen versamel die water wat op die grond val, in klein stroompies wat later groter strome of riviere vorm, en wat ‘n afdraende pad na die see soek. Soos die water oor die grond beweeg, voer dit nie alleen die bolaag saam nie, maar breek dit ook die grond en selfs rotse in kleiner deeltjies op. So word riviere oor lang periodes al dieper en breër uitgekalwe. Mettertyd ontstaan valleie en skeure in die grond. Ons dink byvoorbeeld hier aan die Visrivier-afgronde in Namibië.

E rosie

  • Met die aanslae van die natuur soos ryp, hael, sneeu en son word rotse meer poreus en is daar voortdurend klein stukkies wat wegslyt en afbreek. Hierdie proses van afbreking word verwering genoem. Wanneer die wind of reën (water) nou kom en hierdie klein deeltjies wegwaai of wegspoel, noem ons die verskuiwing van die materiaal erosie. Die klein stukkies word later weer op ‘n ander plek gedeponeer en vorm dan ‘n nuwe vrugbare laag grond.
  • Indien hierdie proses oor ‘n lang tydperk voortduur, word die voorkoms van die landskap verander met byvoorbeeld die vorming van valleie, koppies en klowe. Sagter rots verweer vinniger as die omliggende harde rots en so word interessante landskappe gevorm, soos die tafelkoppies wat so kenmerkend van die Groot-Karoo is.

Spoelkloof (Canyon)

Tafelkop

Vulkane

  • Die buitenste laag van die aarde word die kors genoem. Dit is uit rotse saamgestel. Diep binne-in die aarde is dit so warm dat die rotsmateriaal smelt en magma (gesmelte rots) vorm. Hierdie kokende massa soek voortdurend vir swak plekke in die aardkors om te kan deurbreek. Wanneer die gesmelte rots die aardoppervlak bereik, word dit lawa genoem. Dit koel af, stol en vorm rotse wat nuwe landskappe skep. Die rotskrater is soms so groot dat dit hoë berge vorm.

Verskuiwings

  • Die aardkors word voortdurend onderwerp aan druk- en trekkragte as gevolg van die onstabiele binne-kern. Dit lei soms daartoe dat ‘n deel van die aardkors van onder af opgestoot word en dan bo die res van die landskap uitsteek. Die rand / helling waar die skuifbeweging plaasgevind het, word ‘n verskuiwing genoem. Op hierdie manier kan ons dan ook dikwels die verskillende rotslae, soos dit onder die aardoppervlak lê, duidelik sien.

Die mens

  • Die mens beheer graag sy omgewing en verander dit voortdurend om aan sy behoeftes te voldoen. Voorbeelde hiervan is die bou van paaie en brûe, groot ontwikkelings, damme, ens. Kan julle nog voorbeelde noem?

Aktiwiteit 1:

Om 'n kort paragraaf te skryf oor 'n sekere onderwerp

[lu 2.3]

Skryf ‘n kort paragraaf oor hoe en waarom die mens voortdurend die landskap rondom hom verander.

Het julle aan die volgende aspekte geraak : behuising ; mynbou; boerdery ; vervoer ?

Aktiwiteit 2:

Om navorsing oor sekere onderwerpe te doen

[lu 2.2; 2.3]

Kies een van die volgende maniere waarop die mens indirek die natuurlike landskap beïnvloed. Besoek jou naaste biblioteek of raadpleeg ander bronne om meer hieroor uit te vind en skryf ‘n kort verslag wat aan die klas voorgedra kan word.

  • Ontbossing
  • Gronderosie as gevolg van menslike aktiwiteite
  • Plantegroei word uitgeroei as gevolg van aardverwarming
  • Mono-boerdery
  • Afvalprodukte se invloed op plantegroei

Assessering

LU 1

AARDRYKSKUNDIGE ONDERSOEK

Die leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om aardrykskundige en omgewingsbegrippe en -prosesse te ondersoek.

Dit is duidelik wanneer die leerder:

  • bronne met nuttige aardrykskundige inligting kan kies en gebruik;
  • inligting kategoriseer;
  • 'n indeks gebruik om plekke op wêreldatlaskaarte te vind;
  • deur projekte, bespreking, debat en diagramme, kennis en begrip van die vraagstuk toon [dra die antwoord oor].

Memorandum

  • Behuising
  • Landbou
  • Paaie
  • Mynbou

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Sosiale wetenskappe: aardrykskunde graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10985/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Sosiale wetenskappe: aardrykskunde graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask