<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Sosiale wetenskappe: aardrykskunde

Graad 9

Kaartwerk

Module 11

Foto’s

  1. Foto’s
  1. Waarom gebruik Aardrykskundiges foto’s?

Dit is moeilik vir iemand wat nog nooit ‘n sekere plek besoek het nie om te begryp hoe dit daar lyk. ‘n Kaart van die plek is ‘n wonderlike hulpmiddel, maar onthou dat die verskillende verskynsels ook maar net deur kaartsimbole weergegee word. Daarom kan foto’s oor ‘n afstand heen ‘n baie beter beeld van die betrokke verskynsels daar weergee. Sodoende SIEN die kyker die landskap en die verskillende verskynsels wat daar voorkom.

  1. Wat is ‘n foto dan?

Dit is ‘n hanteerbare, verstaanbare en realistiese miniatuurbeeld van verskynsels wat deur ‘n kamera op film vasgevang is.

2. Verskillende soorte foto’s

Foto’s word geklassifiseer volgens kleur en hoek. In Aardrykskunde word swart-en-wit foto’s meestal gebruik en die leser moet op ervaring staatmaak om byvoorbeeld te weet dat plante ‘n groen kleur het. Kleurfoto’s is baie meer lewensgetrou, maar baie duur.

Op grond van die hoek waaruit foto’s geneem word, word daar verskillende soorte foto’s onderskei. Jy het laasjaar al met van hulle kennis gemaak.

  1. Horisontale foto’s

Voorwerpe op die voorgrond van die foto is groter, omdat dit nader aan die kameralens is. Dieselfde tipe voorwerp, byvoorbeeld ‘n dubbelverdieping-gebou, sal baie kleiner vertoon as dit verder weg van die kamera is. Agter die voorste verskynsels is daar dele wat glad nie gesien kan word nie. Dit word DOOIE GROND of VERSKUILDE GROND genoem. (Dink byvoorbeeld aan ‘n klasfoto. As jy direk agter iemand staan, sal jy nooit op die foto verskyn nie – jy word dan “dooie grond”.)

  1. Skuinslugfoto’s

Hulle word vanaf hoë berge, geboue en vliegtuie geneem waar die kamera skuins na benede gekantel word om iets af te neem. Hierdie soort foto’s dui eienskappe nog steeds uit ‘n redelik bekende hoek aan en het baie minder dooie grond as ‘n horisontale foto.

  1. Hoëhoek skuinslugfoto’s

As die kamera-as met ‘n groot hoek (60°+) weg van die vertikale as gekantel word, word dit ‘n hoëhoek skuinslugfoto genoem. Die horison sal dus nog op die foto sigbaar wees. Die hoeveelheid dooie grond is amper net so veel soos by ‘n horisontale foto.

  1. Laehoek skuinslugfoto

As die kamera-as met ‘n kleiner hoek (±30°) weg van die vertikale as gekantel word, word dit ‘n laehoek skuinslugfoto genoem. Die horison sal dus glad nie op die foto sigbaar wees nie en die hoeveelheid dooie grond is baie minder.

  1. Vertikale lugfoto’s

Vertikale lugfoto’s word gebruik om kaarte te teken, omdat hulle dieselfde beeld van die aarde voorstel as ‘n kaart. Hulle word loodreg van bo geneem deur ‘n spesiale kamera wat onder in die romp van die vliegtuig gemonteer is. Die optiese as van die kamera maak dus ‘n hoek van 90° met die grondoppervlakte.

  1. Die vertikale lugfoto het baie voordele vir die Aardrykskundige:
  • Die skaal is oral akkuraat en groottes van voorwerpe kan akkuraat bepaal word.
  • Dit wys alle eienskappe soos dit werklik van bo lyk (‘n kaart moet van simbole gebruik maak).
  • Daar is geen dooie grond nie.
  • Die uitleg van paaie en spoorlyne blyk duidelik.
  • Hoë bome en geboue kan uitgeken word aan die lang skaduwees wat hulle gooi.
  • Hulle word as basis gebruik vir die samestelling van die 1 : 50 000 topografiese kaarte en 1 : 10 000 ortofotokaarte.
  1. Hoe vertikale lugfoto’s geneem word:

Die kamera word onderaan die vliegtuig gemonteer, wat op ‘n konstante hoogte bo seevlak vlieg. Die vliegtuig vlieg in ‘n oos na wes óf wes na oos rigting en die foto’s word dus in stroke geneem. Elke opeenvolgende foto in die strook oorvleuel die volgende foto met 60%.

Sodra die eerste strook klaar geneem is, draai die vliegtuig om en begin die volgende strook vanaf die teenoorgestelde rigting neem. Die twee stroke oorvleuel weer met 30%.

In Suid-Afrika word die foto’s tussen 10h00 en 13h00 geneem, hoofsaaklik in die somer. Bewolkte en deinserige dae is nie geskik nie, want sekere belangrike inligting kan verberg word.

  • Moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar dat die bokant van ‘n lugfoto altyd noord wys nie. Noord verskyn oudergewoonte aan die bokant van ‘n kaart, maar hou dit altyd in gedagte dat ‘n foto nie ‘n kaart is nie!
  • As die vliegtuig eers van oos na wes en dan wes na oos vlieg, kyk of jy kan sê waarom die drukwerk op die foto soms die regte kant na bo het en soms onderstebo is.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Aardrykskunde graad 9. OpenStax CNX. Sep 14, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11054/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Aardrykskunde graad 9' conversation and receive update notifications?

Ask