<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Die waarheid oor avignon

In die geskiedenisboeke lees ons dat Avignon ‘n toevlugsoord vir ontsnapte tronkvoëls en avonturiers was. Vervalsing en smokkelary was aan die orde van die dag. Daar was talle herberge en kroeë waar mans en vrouens van twyfelagtige karakter uitgehang het.

Van tyd tot tyd het peste die stad getref en die inwoners afgemaai. Bendes soldate wat geleef het van plundering en aanranding, het gereeld die stad aangedoen. Dan het die pous sy seën oor hulle uitgespreek en met duisende goue munte betaal om die stad te verlaat.

Ongeveer 25 km van Avignon was Beaucaire, ‘n dorpie wat in die Middeleeue bekend was vir die kermis wat elke jaar in Julie daar aangebied is. Dan het 300 000 mense op die dorp toegesak om handel te dryf, pret te maak en fees te vier.

Die strate en huise is met vlae en baniere versier en die strate was gepak met besoekers en hul handelsware. Diegene wat nie in die dorp verblyf kon kry nie, het op die skepe wat op die rivier voor anker gelê het, geslaap.

Tydens die kermis het die mense handel gedryf in wyn, juweliersware, olie en seep. Wol, sy, linne, katoen, gekleurde weefstowwe, klere, wapens, hardeware, tou, saals en tome is ook verkoop. Op die walle van die rivier is gedroogde vis, suiker, kakao, koffie, kaneel, vanielje, suurlemoene, lemoene en dadels te koop aangebied.

Daar was ‘n kermisterrein met stalletjies waar speletjies gespeel kon word en enigiets van parfuum tot pype is te koop aangebied. Tuimelaars en kulkunstenaars, akrobate en hansworse het die mense vermaak; vrouens met baarde, reuse en dwerge, bobbejane, honde wat toertjies uitvoer, leeus, bere en olifante het die mense se asem weggeslaan.

Dit was ‘n week van jolyt, pret en opgewondenheid en die besoekers het almal hul besoek aan die kermis op Beaucaire terdeë geniet!

Die agtergrond van die verhaal

Enige verhaal, hetsy roman, kortverhaal, drama, essay of brief, speel teen ‘n bepaalde agtergrond af.

Inleidend tot die verhaal van Die muil van Avignon , sê die skrywer die volgende:

Wanneer die boerevolk van Provence praat van iemand wat moedswillig en haatdraend is, sê hulle: “Oppas vir daardie man! Hy is soos die pous se muil en die skop wat sy sewe jaar lank bewaar het.”

Ek het lank na die oorsprong van hierdie gesegde gesoek, maar niemand kon lig op die saak werp nie. Ek het vermoed dat dit afkomstig moes gewees het uit Avignon se wêreld, uit die dae toe die pouse nog daar gesetel was.

Uiteindelik het ek my gewend tot die plaaslike biblioteek waar ek ‘n week lank rondgesnuffel het. Daar het ek gekry waarna ek gesoek het, die storie van die muil en die skop wat sy sewe jaar lank bewaar het. Die verhaal is prettig, hoewel ietwat naïef. Ek gaan probeer om dit te vertel soos ek dit gelees het in ‘n oeroue manuskrip wat geruik het na droë laventel en met spinnerakdrade as bladwysers.

Omdat die verhaal “prettig en naïef” is, soos die skrywer self sê, sou die verhaal nie so genotvol gewees het as hy die stad Avignon beskryf het soos dit werklik gedurende die tyd van die pouse was nie. Vir die doel van die verhaal moes die inwoners van Avignon altyd in ‘n feestelike stemming wees.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask