Afrikaans eerste addisionele taal
Graad 4
Dorp toe
Module 28
Die restaurant
Aktiwiteit 1
Om in gepaste taal deel te neem aan rolspel [lu 2.2.1, 2.7.2]
BY DIE RESTAURANT
('n Leesstuk en rolspel)
(a) Lees die toneeltjie wat by die restaurant afspeel in groepe van vyf.
(b) Rolspeel dit vir die klas.
KELNERIN : Goeiemôre en welkom by ons restaurant. Ek is Rina, julle kelnerin. Vir hoeveel mense wil julle 'n tafel hê ?
MAMMA : Goeiemôre. 'n Tafel vir vier mense asseblief.
KELNERIN : Kom saam met my.
MAMMA : Baie dankie.
KELNERIN : Sit gerus. Ek sal die spyskaart nou-nou bring.
MAMMA : Baie dankie.
JANE : Ek wil langs Mamma sit.
DONNY : Ek wil by die venster sit.
FRANK : Nee, ek wil daar sit.
MAMMA : Kom nou kinders, bly stil. Donny, sit jy by die venster en dan kan Frank hier sit. Jane, jy moet langs Mamma sit.
KELNERIN : Hier is die spyskaart. Kyk dit gerus deur en besluit wat u wil bestel. Ek sal u bestelling later kom neem.
MAMMA : Baie dankie. Mag ons asseblief 'n glas koue water kry ?
KELNERIN : Met plesier. Ek bring dit dadelik.
MAMMA : Wat wil julle kinders te ete hê ? Hier op die spyskaart is die heerlikste hamburgers en aartappelskyfies.
JANE : Ek wil net 'n pienk melkskommel hê.
MAMMA : Jy moet ook iets eet. Wat van 'n roosterbroodjie ?
JANE : Ja asseblief, maar met eier daarop.
DONNY : Mamma, mag ek asseblief 'n hamburger en 'n roomys bestel?
MAMMA : Ja, en wat van jou Frank ?
FRANK : Ek wil dieselfde as Donny hê, maar mag ek ook 'n koeldrank bestel ?
MAMMA : Òf 'n roomys òf 'n koeldrank, maar nie beide nie.
FRANK : Dan net 'n rooi koeldrank.
KELNERIN : Is u gereed om te bestel ?
MAMMA : Ja. Ons wil drie hamburgers, 'n snytjie roosterbrood met eier op, 'n pienk melkskommel, 'n rooi koeldrank, een roomys en 'n koppie tee bestel.
KELNERIN : Goed so. Ek sal u bestelling plaas en dan sal ek die tafel kom dek.
DONNY : Ek hoop hulle maak gou, want ek is baie honger.
MAMMA : Jy sal maar geduldig moet wag, want hulle moet nog die kos voorberei.
FRANK : Kyk, hier kom die kelnerin om ons tafel te dek.
KELNERIN : Verskoon my. Ek wil net die plekmatjies, servette, messe en vurke op hul plekke kom neersit. Ek sal nou die eet- en drinkgoed bring.
DONNY : Jippie ! Ek raak so honger as ek die lekker kos ruik.
JANE : Hier kom ons kos. Ek wil my pienk melkskommel hê.
MAMMA : Jane, jy moet wag. Die kelnerin weet wat elkeen moet kry. Sy sal dit vir jou gee.
KELNERIN : Hier is u bestelling, Mevrou. Geniet die maal.
MAMMA : Baie dankie. Ons sal.
DONNY : Mmm, maar die hamburger smaak heerlik.
MAMMA : Jane, jy moet jou roosterbrood eet en nie net die melkskommel drink nie.
DONNY : As sy dit nie wil hê nie, sal ek dit eet.
JANE : Nee, dit is myne !
FRANK : Ek is so bly dat ek koeldrank bestel het, want ek is baie dors.
DONNY : Gee vir my 'n slukkie asseblief ?
FRANK : Dan wil ek 'n happie van jou roomys hê.
MAMMA : Net nie mors nie. Gebruik julle servette om jul monde af te vee.
KELNERIN : Is alles in orde ?
MAMMA : Ja, dankie.
KELNERIN : Wil u nog iets bestel ?
MAMMA : Nee, dankie. Jy kan maar die rekening bring.
JANE : Is 'n rekening ook iets om te eet ?