Natuurwetenskappe
Graad 5
Lewe en lewenswyse
Module 14
Reptiele
Aktiwiteit:
Om meer kennis oor reptiele op te doen
[lu 1.2]
Krokodille, slange, akkedisse en verkleurmannetjies behoort tot die groep reptiele.
Die meeste reptiele verkies gebiede met warm temperature.
Reptiele is koudbloedig.
Hulle is kruipende diere.
Velbedekking is skubagtig.
Die dop van die eiers is meesal leeragtig.
Slange
Die oë is aan die kante van die kop geleë en lyk pêrelagtig.
Die tong word gewoonlik gebruik om reuke uit die omgewing te identifiseer.
Die neusgate word glad nie vir reuk gebruik nie.
Slange kan nie kos soos ander diere kou nie. Watter metode gebruik slange om kos wat te groot is in te neem? Die kakebeen is nie aanmekaar vasgegroei nie en kan groot oopgerek word. Die luislang sluk partykeer klein bokkies heel in.
Opdrag: in pare
Soek die volgende inligting en voltooi die onderstaande vraelys:
- Noem ten minste drie soorte goed wat slange graag vreet.
- Watter slang word die “boer se vriend” genoem en waarom?
- Waarom hou suikerboere van die luislang?
- Watter slang vreet voëleiers?
- Vreet slange ander slange? Motiveer jou bevindings.
- Kies een soort slangspesie. Beskryf hierdie slang kortliks deur van die interessantste eienskappe te noem. Maak ook ‘n eenvoudige skets van hierdie slang.
- Watter sintuie is by reptiele besonder goed ontwikkel?
Assessering
LU 1
WETENSKAPLIKE ONDERSOEK Die leerder is in staat om met selfvertroue op weetgierigheid oor natuurlike verskynsels te reageer, en om binne die konteks van wetenskap, tegnologie en die omgewing verbande te ondersoek en probleme op te los.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
1.1 ondersoeke beplan;
1.2 ondersoeke uitvoer en data versamel;
1.3 data evalueer en bevindinge kommunikeer;
Memorandum
Opdrag:
In pare
- bokkies, muise, rotte, molle, paddas, voëls, ens.
- Molslang – vreet muise, molle wat ‘n las in die landerye is.
- Hulle vreet rietrotte wat die suikerriet vreet.
- Die eiervreter.
- Ja – die koraalslang doen dit veral.
- Eie navorsing.
- Oë, reuk (tonge).